Crime

Rowerbende by Ultra City

’n Meisie is uit ’n Fortuner geruk en ’n Pajero se venster is uitgeslaan toe ’n rowerbende op besoekers by die Shell Ultra City op die N4 toegeslaan het.

Hein Lamprecht van Ermelo was Vrydag 18 April saam met sy gesin oppad terug van Pretoria af. Hulle het voor die restaurante parkeer.

’n Ander gesin, wat oppad wildtuin toe was, het naby hulle gestop. Hul dogter het alleen in hul Fortuner agter gebly terwyl die res van haar gesin die winkels in is. Die gesin se identiteit is nie bekend nie.

Mnr. Lamprecht sê dat daar twee verdagte motors in die omtrek was. Rowers het die meisie gegryp en daar het ’n gestoeiery uitgebreek. Hulle het haar in die proses uit die voertuig gepluk. Intussen het ’n ander dief waardevolle items uit die motor gesteel.

Mnr. Lamprecht se Pajero se venster is uitgeslaan en daar is twee handsakke gesteel. Sy 20-jarige seun het dit gesien en agter die skelms aangehardloop. Hy kon die boef ’n skramse hou gee, maar dit was nie genoeg om hom grond toe te bring nie.

Vier verdagtes het in ’n goue VW Citi Golf gespring en weggejaag. Die meisie in die Fortuner se aanvallers het in ’n ander voertuig, wat nie deur mnr. Lamprecht gesien is nie, gevlug.

“Wat vir my skokkend is, is dat hulle so astrant en vreesloos was. ’n Dief is iemand wat jou goed steel as jy nie kyk nie. ’n Rower sal jou fisies konfronteer en jou goed by jou afvat. Ons is beroof. Die volgende ding wat voorlê is moord.”

“Ek het die sekuriteitswag gaan soek en gevra hoekom hy niks gedoen het nie. Hy het gesê dat hy magteloos is teen vier gewapende mans.”

•Die Ultra City parkeerareas word elektronies gemonitor. Verdagte aktiwiteite word aan die polisie deurgegee. Dit is gevaarlik om gewapende wagte in parkeerareas te plaas omdat hulle nie die wapens sal kan gebruik sonder om die veiligheid van ander besoekers in gedrang te bring nie.

•Daar is al lank sprake dat daar polisielede by die misdaadvlaag by Ultra City betrokke is. Bronne uit die polisiemag sê dat die boewe veral toeslaan as daar nie patrollies op die hoofweg is nie. So al asof hulle weet waar en wanneer die polisie aktief is.

•Talle verdagte voertuie en persone is al geïdentifiseer. Die goue Citi Golf is een van hulle en daar is al voorheen oor die voertuig berig. Daar is klagtes dat die polisie weier om uit te kom as hulle in kennis gestel word van verdagte voertuie met vervalsde nommerplate omdat “daar nog nie ’n misdaad gepleeg is nie”.

•Daar is toeris monitors aangestel deur die Departement van Veiligheid. Besoekers aan die Ultra City kla dat hulle bloot in die restaurante sit en nie buite is waar die misdaad gepleeg word nie.

•Verskeie slagoffers van misdaad weier bloot om ’n saak oop te maak. Hulle is dikwels van die buiteland of van ander plekke afkomstig en sien nie kans om na Middelburg te reis vir hofsake nie.

•Kaptein Khanyisile Zwane van die Middelburg Polisie het vrae rondom die misdaad by Ultra City na haar bevelvoerder verwys. Sy het nie met terugvoer gereageer voor druktyd nie.

•Voorvalle waar daar van afstandbeheerders gebruik gemaak word om toegang tot voertuie te kry het skerp gedaal nadat daar blokkeerders geïnstalleer is wat afgaan as iemand ’n afstandbeheerder te lank inhou.

jana@mobserver.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button