’n Boer se probleem
Om lewensvatbaar te boer is nie ’n grap nie. Maar om langs ’n besige hoofweg naby ’n tolhek te boer, is ’n perd van ’n heel ander kleur.
Dolf Rossouw is moedeloos. Hulp van die owerhede is daar nie. Sy grensdraad word amper weekliks geknip, somtyds sommer ’n paar keer, meters uitmekaar.
“As hulle nou hier geknip het, hoekom moet hulle dit daar ook knip?” vra mnr. Rossouw terwyl hy na twee gate in die heining, skaars tien meter uitmekaar, wys.
Mnr. Rossouw sê dat vier uitlanders, wat “in die omgewing bly” ’n skrikbewind by die tolhek, Ultra City en naburige plase voer.
Waar presies hulle bly is ’n ope vraag. “Sommer so in die veld. Jy sal nog so in die veld ry dan sien jy daar steek een se kop uit. Voor jy jou oë uitvee is hy weg. Ander keer kry jy hulle weer onder ’n boom vuurmaak.”
Spore van misdaad lê mnr. Rossouw se hele plaas vol. Boewe wat hul buit in sy veld versteek, knip sy drade om maklik toegang tot die veld te kry. Verlede week het 80 van sy stoet brahmane op die N4 beland. Dinsdagoggend was hy juis weer besig om drade reg te maak. Voetpaadjies lei reguit na die geknipte gate in die grensdraad.
Mnr. Rossouw beweer dat hy in die laaste jaar honderde versteekte trokbande en ander gesteelde goedere op sy plaas gekry het.
“Ek skryf die troknommers op die bande neer. As jy die polisie bel kom hulle partymaal uit. Ander kere probeer ek self om die eienaars op te spoor.”
Mnr. Rossouw vertel dat hy eendag ’n man te voet langs die pad teëgekom het. Toe hy hom uitvra het die man aan hom gesê dat ses van sy trokbande deur die nag by die tolhek afgesteel is. Sy werknemer in Walvisbaai het laat weet dat die bande van sy salaris afgetrek gaan word.
“Ek het vir hom gesê hy moet agterop die bakkie klim en vir my sê wat hy voor in die pad sien.”
Die spore waar diewe die wiele gerol het was duidelik sigbaar. Mnr. Rossouw en die trokbestuurder het dit gevolg tot waar dit in ’n mielieland weggeraak het. Meters daarvan af het hulle die bande gekry.
“Hy was so dankbaar hy het amper begin huil.”
Oor Kersfees het diewe een van sy beeste geslag. Een van sy werkers wat oppad na die winkel by Ultra City was het die diewe gekry waar hulle met die beeskop langs die pad sit.
Mnr. Rossouw sê dat hy al snaakse goed, soos drie bokse pruike, in die veld versteek gekry het. Boewe het ook al ’n ton Windhoek Lager van ’n trok af gesteel.
“Die sekuriteit sê dat hulle nie naby die mans gaan nie omdat hulle gewapen is.”
’n Broodvragmotor met Gauteng nommerplate asook ’n wit Isuzu bakkie, wat vermoedelik vanaf die Uitkyk plakkerskamp daar naby kom, word gereeld gesien waar hulle vroegoggend gesteelde goedere uit die gras oplaai.
• Die moontlikheid dat die mans met ’n vlaag misdaad in die omgewing verbind word, is ook deur mnr. Rossouw gelig. ’n Boer daar naby, Frank Glazer, se huis is onlangs met klippe bestook. ’n Paar weke terug is pastoor Douglas Belcher met ’n mes gesteek by die kibboets en drie weke voor dit is nog ’n inwoner daar geskiet. Nog ’n vrou is in die omgewing tydens ’n rooftog verkrag.
jana@mobserver.co.za
