DA wen meeste stemme, maar koalisie wag
Die verkiesingsuitslag laat Middelburg se politieke toekoms onseker, met koalisie-onderhandelinge wat nou voorlê.
Die stemme is getel en die DA het die meeste steun in die Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit se munisipale verkiesing gekry, met die ANC in die tweede plek.
Die uitslag beteken egter nie dat die DA reeds die munisipaliteit gaan lei nie. Die volgende twee weke se koalisie-onderhandelinge sal bepaal hoe die nuwe raad saamgestel word en wie uiteindelik die leiding sal neem.
DA lei, maar het nie volstrekte meerderheid nie
Die DA het 30,8% van die stemme op hom verenig, gevolg deur die ANC met 26,4%. MK Party het 8,7% behaal, die EFF 7,3%, die VF Plus 6,4%, die Service Delivery Party 3,5%, ActionSA 3,5%, Hope 3,2% en die South African Communist Party 2,1%.
Talle kleiner partye het 1% of minder van die stemme gekry. Dit sluit die Middelburg and Hendrina Residents Front, wat vier jaar gelede deur die voormalige burgemeester Ben Mokoena gestig is, en die Patriotic Alliance in.
Mokoena en nog ’n oudburgemeester, Mika Masina, sal waarskynlik albei na die raad terugkeer.
Volgens Masina vergader Hope vanmiddag om oor die party se verteenwoordiging in die raad te besin.
Die DA het 19 866 stemme in die wyke gekry, teenoor die ANC se 16 560. In die proporsionele stem het die DA 19 592 stemme op hom verenig, terwyl die ANC 16 909 gekry het.
Die uitslag toon ’n verskuiwing in steun tussen die twee grootste partye, met die DA wat die meeste stemme gekry het. Die party het egter nie genoeg steun behaal om alleen te regeer nie.
Die DA het ook die sogenaamde Witkerk-wyk, waar die ANC voorheen aan bewind was, met 45 stemme verloor. Lynette van der Merwe het naby gekom, maar kon nie die wyk vir die DA wen nie.
Die MK Party, onder leiding van oudpresident Jacob Zuma, het goed gevaar en is nou die derde grootste party in Middelburg.
Die VF Plus, met Corrie Wolmarans van Hendrina die burgemeesterskandidaat, is vyfde op die lys.
Koalisie-onderhandelinge wag
Koalisie-onderhandelinge sal op provinsiale vlak gevoer word.
Een ervare raadslid het op voorwaarde van anonimiteit gesê dit is belangrik dat Middelburg ’n stabiele koalisie vorm.
“Wanneer koalisies onstabiel is en partye gereeld verskil, kan dit tot mosies van wantroue lei. Dit kan meebring dat die burgemeester en die munisipale leierskap gereeld verander.”
Wat is ’n ‘hung council’?
Maar wat presies is ’n sogenaamde hung council?
In eenvoudige taal is dit ’n raad waarin geen enkele politieke party ’n volstrekte meerderheid van die setels behaal het nie.
Om die munisipaliteit te bestuur en besluite deur te voer, het ’n party gewoonlik 50% plus een van die totale aantal setels nodig. Wanneer geen party dié meerderheid behaal nie, staan die raad as ’n hung council bekend.
In so ’n situasie kan die munisipaliteit op verskillende maniere bestuur word:
- Koalisieregering: Twee of meer partye span saam om ’n meerderheid te vorm. Hulle sluit gewoonlik ’n ooreenkoms en verdeel sleutelposisies, soos dié van burgemeester en speaker, onder mekaar.
- Minderheidsregering: Die party met die meeste setels probeer regeer sonder ’n formele koalisie. Die party moet dan van geval tot geval met ander partye onderhandel om besluite en begrotings goedgekeur te kry.
Wie gaan Middelburg regeer?
In Middelburg is samewerking tussen die ANC en DA een van die moontlike uitkomste.
’n Ander moontlikheid is dat die MK Party, EFF en ANC ’n koalisie vorm, waarna die DA moontlik steun by kleiner partye sal moet soek.
Sal die ANC en DA weer saamwerk, soos ná die vorige verkiesing?
Die komende onderhandelinge sal bepalend wees vir Middelburg se politieke toekoms. Inwoners wag intussen op aandag aan dringende diensleweringskwessies, waaronder die herstel van slaggate en die onstabiele watervoorsieningstelsel.
