Viva Motorhawe beroof
’n Sekuriteitswag van Lezmin Sekuriteit is met ’n R5 aanvalsgeweer in die arm gewond toe rowers, wat toegeslaan het op die Viva Motorhawe in Marble Hall, op hom losgebrand het.
Mnr. Paul Dicks (33) was teen druktyd nog in die Kosmos Hospitaal (eMalahleni) waar hy behandel word vir die skietwond. Die been aan sy regtervoorarm is erg versplinter met die skietwond en dokters wag vir die swelsel om te sak voordat hulle waarskynlik vandag (Vrydag) kan opereer.
Mnr. Dicks het Maandag in die vroeë oggendure (omstreeks 03:00) reageer op ’n noodroep vanaf een van die sekuriteitswagte by die Viva Motorhawe.
Die wag was oppad om ’n warm baadjie te gaan haal, toe hy opmerk dat vyf rowers op die 24uur winkel toegeslaan het.
Die rowers het by die winkel ingestorm met handwapens en ’n R5 masjiengeweer en die twee kliënte, twee werknemers, vier joggies en nog ’n sekuriteitswag gedwing om na agter in die winkel te beweeg.
Die booswigte het daarna met springstof die valkluis probeer oopkry en ’n geweldige slag het deur die gebou geruk.
Mnr. Dicks het na die motorhawe gejaag, maar toe hy indraai by die perseel, het die rowers op hom losgebrand. Hy het nie kans gehad om terug te vuur nie en moes wegjaag. Hy het dadelik hul kantoor vir versterkings gekontak.
“Paul was gewond, maar hy het my langs die pad ontmoet en weer saam met my na die motorhawe toe gejaag,” het mnr. Bertus Homan (bestuurder Lezmin Sekuriteit) gesê.
Met die sekuriteitspanne se aankoms by die motorhawe was die rowers reeds skoonveld. Hulle het gevlug met ’n wit VW Golf 6 met ’n GP registrasienommer.
Mnr. Dicks is gestabiliseer by die Groblersdal Hospitaal, vanwaar hy na die Life Midmed Hospitaal afgevoer is. Hy is dieselfde dag oorgeplaas na die Kosmos Hospitaal.
• Buiten die skade weens die ontploffing, sigarette en kliënte se selfone, word niks anders vermis nie.
• ’n Totaal van 12 skote het mnr. Dicks se bakkie getref. “Van die skote is deur die windskerm en het sy kop rakelings gemis. Daar is ook verskeie skote deur die deur gevuur. Liewe Jesus het sy hand oor Paul gehou,” het mnr. Homan dankbaar gesê.
