Frikkie in Zim tronk?
Indien ‘n Zimbabwiese nuuswebwerf se nuus akkuraat is, is plaaslike sakeman Frikkie Lutzkie tot drie jaar tronkstraf gevonnis.

Lutzkie het koppe gestamp met Zimbabwiese owerhede nadat sy helikopter in Mei op die plaas Doddieburn in ‘n ongeluk betrokke was.
Die gemeenskapsradio webwerf radiologue.com, wat in Bulawayo gebasseer is, het berig dat Lutzkie skuldig gepleit het op 14 aanklagte teen hom wat glo die oortreding van Zimbabwe se burgerlugvaart- en immigrasiewette insluit.
Volgens die webwerf het Lutzkie skuldig gepleit en is hy tot 84 maande tronkstraf gevonnis waarvan 42 opgeskort is.
Die nuus kom as ‘n skok omdat Lutzkie se regspan nog gistermiddag (Donderdag) gespook het om duidelikheid te kry oor wat presies die aanklagte teen hom is. Hy is vandat hy Maandag vrywillig Zimbabwe toe gevlieg het, in ‘n polisiesel aangehou en ondervra sonder dat hy formeel aangekla is.
Voor Lutzkie na Zimbabwe is, het hy telefonies aan die Middelburg Observer vertel dat die ongeluk ‘n menslike fout was. Hy het volgehou dat hy geen wette oortree het nie.
Sy lewensmaat Daleen Botha was verstom oor sy aanhouding en ondervraging “Hy het ‘n helicopter ongeluk gehad. Dit is al. Wat het hy dan gedoen wat so vreeslik verkeerd is?”
Niemand kon in die hande gekry word om kommentaar te lewer oor die nuutste verwikkelinge nie.
