Beloning: Unieke motorfiets gesteel
’n Unieke American Chopper motorfiets is skaars 24 uur nadat dit aan ’n optog by die Old Boys Derby rugbywedstryd deelgeneem het, uit die eienaar se motorhuis in Aerorand gesteel.
Neels Liddle het Saterdag aandag getrek met sy Warthog wat volgens unieke spesifikasies ombou is, tydens die optog by Kees Taljaard stadion. Dit blyk nou dat al die aandag nie so ’n goeie ding was nie.
Mnr. Liddle se eggenoot, Soene, sê dat hul alarm Sondagaand teen middernag afgegaan het. “Neels is uit om te gaan kyk, maar alles was stil.”
Hulle het die volgende oggend gesien dat die motorhuis, waarin die fiets gebêre word, oopgebreek is. ’n Toyota Prado en gholfkarretjie wat op ’n waentjie gestaan het is onaangeraak gelaat.
Die vermoede bestaan dat die fiets moontlik Saterdag by die rugbywedstryd deur iemand gesien is en dat mnr. Liddle huistoe gevolg is.
Dit was die eerste keer in maande wat mnr. Liddle met die motorfiets ry. “Ek kry baie min tyd om met hom te ry. Hy het vir die afgelope ses maande in die garage gestaan.”
Die fiets, wat R350 000 werd is, is enig van sy soort.
“Ek verstaan nie wat hulle met die fiets gaan doen nie. Daar is net een so fiets in die hele wêreld” het mev. Liddle gesê.
Daar is ’n saak van diefstal by die Middelburg Polisie oopgemaak.
• ’n R10 000 beloning word aangebied vir inligting wat sal lei tot die terugvind van die motorfiets.
Enige iemand met inligting kan mnr. Liddle by 082 582 4999 of die Middelburg polisie bel
Lees opvolg hier:
