Pasop vir meevaller
Dit is tyd vir belasting opgawes wat baie maal beteken dat daar ’n welkome meevaller na jou kant toe oppad is of dat jy dalk met ’n swaar boete gestraf gaan word.

Boewe weet ook van die verwikkelinge, al is hulle nou nie juis getroue belasting betalers nie.
’n Epos van Sars eFiling wat jou in kennis stel dat jy ’n paar duisend Rand ryker is mag dalk nie so verdag voorkom soos wat dit andersins sou nie.
Veral omdat die afsender van die e-pos dan Sars.eFiling is.
Wat verder help om die wolf in skaapklere te verdoesel is die feit dat die afsender adres pmt.msg@sars.gov.za is.
Hoe kan dit dan vals wees as dit van ’n skynbaar geldige Sars epos afkomstig is?
Gauteng woordvoerder Adam Lackey sê dat daar verskeie bedrogskemas is waarvan hulle bewus is.
Bedrieërs skep vals webwerwe wat baie na die ware Jakob lyk.
Hy meen dat jy nie uit die bloute ’n gelukkie van SARS deur middel van ’n e-pos sal kry nie.
Jou bank sal jou in kennis stel as daar geld inbetaal word en nie Sars nie.
“As jy enige van jou besonderhede wil verander of as ons van jou verwag om dit te verander sal jy fisies moet inkom met jou identiteitsboekie. Ons sal jou nooit vir enige persoonlike inligting oor die foon of oor ’n e-pos vra nie.”
Hy sê ook dat as jy jou belasting opgawe ingee jy al ’n goeie idee sal hê van hoeveel geld jou kant toe sal kom. Daar sal dus bittermin welkome verassing wees waarvan jy nie bewus is nie.
As jy so ’n e-pos ontvang en lont ruik kan jy op die Sars webwerf www.sars.gov.za gaan kyk vir ’n lys van die nuutste skelmstreke waarvan Sars bewus is. Kliek net op die “Report a scam” skakel.
