Seun pleit vir selfoon
'n Twaalfjarige laerskoolseun is Dinsdag met 'n mes teen sy keel gedwing om sy selfoon aan drie mans, wat hom en 'n vriend van die skool af huistoe agtervolg het, te gee.
Klein Zander Booyse en sy vriendinnetjie, Marlise Booysen, het na die skoolklok om 12:30 vir hulle gelui het, huiswaarts gekeer via die stadion.
Die tweetjies bly beide in Koppiestraat en by die laagwaterbruggie, twee blokke van die huis af, is hulle ingehaal deur die mans wat ‘n mes by hulle gehad het.
Die mesdraer het die seun gedwing om sy selfoon, ‘n Nokia Asha, te oorhandig maar Zander het pleitend op sy knieë bly klou aan die foon.
Die man het die foon by hom afgedwing en op die vlug geslaan.
Buiten die trauma van die roof, is Marlise deur die rowers ontsien omdat sy niks van waarde by haar gehad het nie.
Die tweetjies is huistoe om hul ma’s te vertel waarna die vroue polisiestasie toe is om die saak aan te meld.
“Ek het twee maal, met verskillende skofte probeer om ‘n saak oop te maak maar die polisie wou nie byt nie,” sê Etu Booyse.
Sy sê omdat sy nie die foon se IMEI-nommer gehad het, waarmee die polisie die foon kan opspoor en blok nie, wou hulle haar nie help nie “want waar soek ons die foon en die krimineel?”.
“Kan enige krimineel dan nou maar net ‘n mes teen jou keel druk en jou beroof sonder enige nagevolge vandag?” vra Etu wat nog meer ontsteld is oor die feit dat die kinders agtervolg is en weer op die roete verras kan word.
Kaptein Khanysile Zwane sê die IMEI-nommer help, maar is nie noodsaaklik om ‘n roof aan te meld nie.
“Wapens was hier betrokke en ‘n saak van verswarende roof moet oopgemaak word,” sê kaptein Zwane wat onderneem het om me. Booyse persoonlik behulpsaam te wees met verdere stappe.
