Dié klein patroontjie ken van naaldwerk in Middelburg
’n Agtjarige kreatiewe Middelburger bewys dat groot talent in klein pakkies kom met haar tweede plek in ’n nasionale kompetisie.
Bianca Cass (8) ’n gr. 2-leerling by Laerskool Middelburg, was skaars vier jaar oud toe sy haar eerste garing in ’n naaimasjien ingeryg het. Sy was destyds so klein dat haar lyfie skaars bo die tafel uitgekom het.
Vier jaar later het dié jong Middelburgse ontwerper haar plek tussen die land se jong naaldwerktalent ingeneem deur tweede in haar ouderdomsgroep in die nasionale Bernina Dress Your Style 2026-kompetisie te behaal.
’n Klein dogtertjie se liefde vir handwerk het sommer gou-gou in ’n besondere talent ontwikkel.
Teddiebere na ontwerpersklere
Onder leiding van Marianna Loedolff het Bianca verskeie projekte aangepak.
Een van haar eerste skeppings was ’n teddiebeer met beweegbare arms en bene, waarna sy haar hand aan popklere gewaag het.
Mettertyd het haar vaardighede gegroei. Sy het selfs voorskote vir haarself en haar boetie gemaak – en dit nogal uit ou klere wat onder haar hande ’n nuwe lewe gekry het.
Vanjaar het Bianca besluit om haar ontwerpersvingers op die proef te stel.

Loedolff
Toe Bernina SA in Junie sy nasionale Dress Your Style 2026-kompetisie bekendgestel het, het Marianna en Bianca die uitdaging met albei hande aangegryp.
Die kompetisie se Speel en skep-afdeling het laerskool- en hoërskoolleerlinge uitgedaag om ’n ou T-hemp en kortbroek in ’n splinternuwe uitrusting te omskep. Met haar ouers se toestemming het dié twee aan die ontwerp, knip en naaldwerk begin werk.
Drie maande se harde werk, geduld en deursettingsvermoë het uiteindelik tot ’n besondere prestasie gelei.
Hande wat hard kan werk
Die ure agter die naaimasjien het haar aandag op ’n doelwit gevestig, selfs wanneer dinge moeilik geraak het.
Marianna glo dat handwerk ’n groter plek in kinders se lewens verdien. Sy betreur dit dat praktiese vakke soos naaldwerk nie meer dieselfde plek in skole het as voorheen nie.
Volgens haar leer sulke vaardighede kinders nie net om iets met hul hande te skep nie, maar kan dit ook ’n waardevolle uitlaatklep wees vir kinders wat moeilike tye beleef. “Namens Bernina wens ons Bianca geluk met hierdie pragtige prestasie,” sê Marianna, wat met trots glo dat dié jong ontwerper se talent uit die nate bars.

Loedolff
Met haar liefde vir ontwerp en die vermoë om ou materiaal in iets nuuts te omskep, het Bianca reeds gewys dat kreatiwiteit nie deur ouderdom beperk word nie.
Ou klere, ’n naaimasjien en ’n groot droom – Bianca se storie het pas begin.