Crime

Temic-strooiers slaan weer toe in Pleinstraat

Booswigte wat die gevreesde gif, Temic, oor mure gooi om honde te vergiftig sodat hulle kan inbreek, het in die vroeë oggendure by drie huise in Pleinstraat toegeslaan.

Mnr. Hennie Lottering is minute na middernag gewek toe die alarmstraal in sy erf geaktiveer is.

Hy het uitgegaan en rondgekyk, maar kon niks sien nie en vir die alarmbesigheid gesê dat dit nie nodig is dat hulle uitkom nie.

Vrydagoggend het hy egter hul goue apporteerhond (Golden Retriever), Diesel, dood gekry.

Hul labrador, Girly, het ook van die gif ingekry en moes veaarts toe gejaag word.

Teen Maandag was die hond steeds in die dierehospitaal.

Girly word nog in die dierehospitaal behandel.
Girly word nog in die dierehospitaal behandel.

Een van hul klein hondjies het later in die dag gelek op die area waar Diesel gevrek het en moes inderhaas ook dierehospitaal toe gejaag word vir behandeling.

Met nadere ondersoek het mnr. Lottering gevind dat die booswigte die betrokke nag die palissade op die hoek van die muur weggebreek het om te kon oorspring.

Die alarm het hulle klaarblyklik laat vlug.

Temic kan duidelik uitgeken word aan sy korrelrige voorkoms. Dit word gewoonlik in vleis of wors (soos op foto) toegemaak en vir honde gegooi. FOTO: Internet.
Temic kan duidelik uitgeken word aan sy korrelrige voorkoms. Dit word gewoonlik in vleis of wors (soos op foto) toegemaak en vir honde gegooi. FOTO: Internet.

• Mnr. Brian Wilcox, wat net oorkant mnr. Lottering bly, het sowat ‘n uur later, 01:40, wakker geword omdat sy honde aanmekaar blaf.

Hy is met sy flits na buite, waarop hy gesien het dat twee jong mans in die straat afhardloop.

Mnr. Wilcox het dadelik die radiogroep (Sektor 3) geroep toe hy sien dat sy twee honde, Jessie (‘n spanjoel) en Charlie (‘n Duitse Herdershond) gif ingekry het. Hy het met die diere na die veearts gejaag, waar hulle vir twee dae in die dierehospitaal moes deurbring.

Hy sê dat dit die vierde keer is in die laaste paar maande dat booswigte gif oor die muur gooi. “Jessie is al vier keer deurgehaal!”

Die egpaar hou nou die honde in die huis, want hulle is bang dit gebeur weer.

• Mnr. Wilcox se buurman, Johan van der Westhuizen, sê hy het Vrydagoggend omstreeks 05:00 gaan werk. Teen 06:00 het sy hartseer gesin hom laat weet dat hul sewejaar oue boerboel dood agter die Wendyhuis gekry is.

“Ons het Mia grootgemaak vandat sy drie weke oud was!” Die boosdoeners het vroeër in die jaar sy ander boerboel vergiftig.

Nadat hy die dooie hond verwyder en die erf gefynkam het vir nog gif, het hulle die ander honde laat uitkom.

Die pragtige boerboel, Mia, wat met haar lewe moes boet omdat sy haar eienaar se huis wou oppas. Booswigte het by drie huise in Pleinstraat die gevreesde Temic-gif oor mure gegooi.
Die pragtige boerboel, Mia, wat met haar lewe moes boet omdat sy haar eienaar se huis wou oppas. Booswigte het by drie huise in Pleinstraat die gevreesde Temic-gif oor mure gegooi.

Kort daarna het altwee die honde ook siek geword en moes inderhaas veearts toe geneem word vir behandeling.

Mnr. Van der Westhuizen sê sowat nege dae voor die honde vergiftig is, het diewe sy kind se fiets uit die motorhuis gesteel. Die oggend van die diefstal het hy ‘n afgerolde toiletpapier wat in ‘n bondel voor sy huis gelê het, gekry.

“Hoe slaap mens ooit weer rustig? Jy is te bang hulle kom terug!” het hy woedend gesê.

• Temic word ook die “Two Step”-gif genoem, omdat dit so gou die dier se dood veroorsaak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button