Temik – begin van misdaadsirkel
'n Teelepel vol van die korrelrige gif wat as "Temik" geken word, kan 'n renoster doodmaak, maar net 'n tiende daarvan kan 'n man van 80kg se dood veroorsaak!
So sê dr. Gerhard Verdoorn (Direkteur van die Griffon Gifsentrum en konsultant vir die Landbou Chemiese Industrie en AVCSA – Association of Vetenerian and Crops SA).
Hy het hom skerp uitgespreek oor dié vergiftiging wat al vir jare in Suid-Afrika voorkom.
“Daar vrek daagliks tot ‘n duisend honde in Suid-Afrika en sowat 100 mense gaan dood aan Arbicarb-vergiftiging per jaar!”
Bayer CropScience het in 2011 opgehou om Temik te vervaardig en alle voorraad was teen einde November uitverkoop. In Mei 2012 is die registrasie van Temik teruggetrek.
Temik is hoofsaaklik gebruik met plaagbeheer vir aartappelboere, maar is baie erg gereguleer.
Slegs geregistreerde plaagbeheermaatskappye kon dit bekom en boere moes spesiale opleiding kry om met dié gif te werk.
Die vraag is nou, wáár kry die booswigte die gif om honde te vergiftig?
Volgens dr. Verdoorn het hy al in Julie 2010 ‘n verslag aan die sekretaris van die Polisie voorgelê waarin hy die gevare van Temik, en veral Aldicarb (die formulasie wat in Temik voorkom) inhou.
Dr. Verdoorn sê die meeste van die korrelrige gif wat deesdae gebruik word met die vergiftiging van honde, is Aldicarb-formulasies en nie noodwendig Temik nie. Alle Aldicarb-formulasies is egter ewe dodelik – “10 keer meer dodelik as strignien!” (Strignien staan bekend as wolwegif).
Hy het sy verslag wat hy aan die polisie voorgelê het, aan die Observer beskikbaar gestel.
As ‘n mens dit in ‘n neutedop moet saamstel, is dit duidelik dat die vergiftiging van diere, hetsy troeteldiere of plaasdiere en selfs wild, alles deel is van ‘n baie groter misdaadsirkel.
Die gebruik van Temik en ander Aldicarb-formulasies is onwettig vir landbougebruik, maar dit is nog nie wetgewing nie en dit is net daar waar die probleem lê, sê dr. Verdoorn.
“Die hele misdaadsindikaat begin wanneer die dier die gif ingekry het. Daarna het die misdadigers makliker toegang tot die eiendom en volg inbrake, kardiefstalle, moorde en verkragtings!”
Die middel is dodelik en vinnigwerkend. Dr. Verdoorn sê ‘n persoon wat Aldicarb inkry kan in onder ‘n uur sterf. “Baie mense pleeg met Aldicarb formulasies selfmoord.”
Hy het vertel van drie voorvalle waar jong kinders onder agt jaar Aldicarb ingekry het nadat hulle gif wat versteek was in vleis vir honde, geëet het. Twee van die drie kinders het gesterf.
‘n Klein hondjie wat ‘n groot dosis Aldicarb inkry kan binne vyf minute vrek en ‘n groot hond binne 12 minute!
Dr. Verdoorn veg al lank vir wetgewing. Tot dusver is een persoon in Heildelberg ‘n opgeskorte vonnis opgelê. Dit was egter net omdat hy die Aldicarb-formulasie verkoop het as rottegif. “Hulle kan vir niks anders aangekla word nie. Die polisie doen net niks nie, want daar is nie spesifieke wetgewing daaroor nie!”
Hy sluit sy verslag af met: “Dit is nie onmoontlik dat misdaadsindikate ‘n massiewe menslike of omgewingsramp kan veroorsaak deur die onwettige smokkel van die gif nie!”