Crime

Bakhandvrou steel selfoon

'n Vrou is deur die Venter broers, Wimpie en Jannie, betrap met 'n gesteelde foon wat sy by hul besigheid, Hi Tech Wireless, by Fountain Corner uit hul kantore gesteel het.

Die vrou, wat glo by besighede omgaan en geld insamel vir weeskinders in Ogies, is vriendelik verwelkom sê die ontvangsdame, Natasia Visagie, wat die borgvorm in die kantoor gesirkuleer het.

“‘n Kollega van my, Johan Heyneke, het sy Samsung Galaxy foon voor op die toonbank by my gelos toe die vrou instap met die vorm,” vertel Natasia.

Die ouerige vrou, met blonde krulle, het voor in ontvangs gebly toe Natasia in die besigheid omgegaan en geld vir haar ingesamel het.

Sy het die geld ontvang en dadelik spore gemaak, waarna Johan sy foon begin soek het.

Hulle het onmiddellik vermoed dat die vrou iets met die foon se verdwyning te doen het.

Wimpie en Jannie het die foon se IMEI nommer op Google gaan intik en die selfoon se sein gevolg, tot waar hulle haar kon inhaal. Die vrou se wit Golf is by Fountain Square Tiger Wheel & Tyre afgetrek.

“Ons het vir haar gesê dat ons haar op kringtelevisie vasgelê het dat sy die selfoon steel,” sê die Venters.

Die vrou, wat haarself voorstel as Susan, het die foon uitgehaal “en bloot gesê jammer, asof wat sy gedoen het totaal aanvaarbaar is,” sê Jannie, “en dit nadat ons haar finansieel ondersteun het!”.

Natasia het selfs haar nommer gevat sodat sy haar later kon bel vir klere wat sy wou skenk.

Die Observer het gepoog om haar te skakel maar sy het aanhoudend die foon doodgedruk en ook nie op die koerant se boodskappe reageer nie.

Hulle het ‘n foto van haar geneem, en Middelburg se waghond die Middelburg Observer gebel, om besighede te waarsku om hulle hekke dig toe te hou.

Haar Golf se registrasie is BDT730MP en is van agter beplak met plakkers met duiweltjies wat driepunt vurke vashou.

•Die Observer het laat Donderdagmiddag vasgestel die voertuig is geregistreer in die naam van PJJ Coetzee van Loftus Versfeldstraat, Reyno Ridge, in eMahalaleni.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button