Vat so dief!
'n Vermeende fietsdief het sy moses teëgekom toe lede van die gemeenskap besluit het om hom 'n les te leer.
Jeanine Smith sê dat haar vriend, Steve Putter, by hul huis in Bonckerstraat besig was om ‘n band reg te maak.
Hy het ‘n man op die sypaadjie gesien sit toe hy na die vulstasie daar naby is om die band te laat pomp.
Toe hy minute later terugkeer huistoe, het hy die man uit hul erf sien stap met ‘n fiets onder sy arm.
Toe hy mnr. Putter gewaar het hy die fiets neergesmyt en laat spaander.
Mnr. Putter is agter hom aan. Naby Cowen Ntulistraat het hy om hulp begin roep.
“Amper 20 mense het hom daar in die straat getakel. Hulle het gesê ons moenie die polisie bel nie, hulle sal hom sommer self ‘n les leer.”
Mev. Smith waarsku mense dat jy op die uitkyk moet wees vir leeglêers.
“Die man het heel ordentlik gelyk met ‘n blou oorpakbroek en veiligheidskoene aan. Dit het gelyk asof hy oppad werk toe is.”
