Crime

Opvolg: Nog honde vergiftig

Nog honde is vergiftig met waarskynlik Temik of ander Aldicarb-formulasies.

Daar berig dat daar by drie huise in Pleinstraat gif gegooi is en dat drie honde gevrek het.

Die booswigte het wéér toegeslaan.

Me. Sienie Venter (Blesbokstraat, Kanonkop) vertel dat hulle gesien het dat daar fout is met hul twee bulterriërs, Meisiekind en James, aangesien die honde glad nie kon opstaan nie.

Hulle het met die twee honde gejaag na die Oribi Dierekliniek waar James kort daarna gevrek het.

Hulle kon gelukkig vir Meisiekind deurhaal.

Me. Venter sê hulle het al ‘n jaar ‘n probleem met misdadigers wat kort-kort oor hul mure spring aan die agterkant van die erf.

“Ons het al tot bloedkolle gekry waar die honde hulle beetgekry het!”

Sy sê die boosdoeners het die gif in hoender gesit voordat hulle dit vir die honde gevoer het.

Omstreeks 16:45 het me. Danielle Oliver tuisgekom by haar huis in Maroelastraat (Kanonkop) en gesien dat haar boerboel, Juke, rondval.

Hy het ook konvulsies gekry en sy hele lyf het geruk.

Die hond is ook Oribi Dierekliniek toe gejaag, waar die veearts die dier vir vergiftiging moes behandel.

“Ek is vreesbevange! Wanneer besluit hulle om dit wéér te doen! Ons het ook ‘n idee wie dit kan wees,” het me. Oliver omgekrap gesê.

Me. Annetjie Nieuwehuis (Komatistraat, Mineralia) het omstreeks 16:00 gesien haar baba Deense hond (Grate Dane) en hul foksterriër/pekinees kruising hondjie (van sowat vyf maande oud) is erg siek.

Die honde het rukkings gekry en hul oë het teruggerol in hul kaste.

Sy het met die honde na die veearts gejaag, maar met hul aankoms by die veearts was die foksterriër reeds dood.

Die Deense hond moes ook uitgesit word.

Dié twee hondjies is in Komatistraat (Mineralia) Saterdagmiddag vergiftig.
Dié twee hondjies is in Komatistraat (Mineralia) Saterdagmiddag vergiftig.

Dieselfde middag is die miniatuur Dobermann Pinscher hondjie van die Geldenhuys-gesin vir vergiftiging by die Oribi Dierekliniek behandel.

Dié hond kon gelukkig ook deurgehaal word.

Volgens dr. Charmain van der Linde (veearts, Oribi Dierekliniek) het die honde nie almal die klassieke simptome gewys van Temik (Aldicarb)-vergiftiging nie.

Van die honde het net gesukkel om op te staan en sommiges het senuweeagtig voorgekom.

Die tipiese tekens van Aldicarb-vergiftiging is rukkings van die spiere, erge braking en jellierige stoelgang.

Dr. Gerhard Verdoorn (Direkteur van die Griffon Gifsentrum) het verlede week gesê dat nie al die korrelrige gif wat deesdae vir honde gegee word, Temik is nie.

Hy noem dit Aldicarb-formulasies (Temik het ook dié kristal in sy samestelling) wat van oral af die land ingesmokkel word.

Temik word al sedert 2011 nie vervaardig nie en die registrasie van Temik is in Mei 2012 teruggetrek, wat beteken dat dit sedertdien onwettig is in die landboubedryf om te te koop of te versprei.

Dit is egter nog nie wetgewing nie en het dr. Verdoorn al in 2010 ‘n brief aan die sekretaris van Polisie gerig waarin hy sy kommer uitspreek oor die smokkelverspreiding van hierdie gif.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button