VIDEO: Nou gooi hulle in en jaag weg
Die petrolprys het pas weer die hoogte ingeskiet. Geen probleem vir petroldiewe nie...hulle haal net hul nommerplate af, gooi brandstof by ’n vulstasie in en jaag weg!
Sasol Meyerstraat was die jongste slagoffer van brandstofdiewe.
In dié geval het die skelm nie net sy tenk volgemaak nie, maar sommer kanne in sy kattebak ook laat vul!
Volgens mnr. Shane du Toit (bestuurder) het die wynrooi Renault Megane omstreeks 20:45 by een van die petrolpompe gestop.
Die petroljoggie onthou dat daar ’n swartman bestuur en ’n blanke man in die passasiersitplek was.
Hulle het nie uitgeklim nie, maar vir die joggie gesê om “vol te maak”. Die man het van binne af die kattebak ook oopgemaak en die joggie aangesê om al die kanne in die kattebak ook te vul.
Die totale bedrag was R1 804 en die man het die joggie gevra om die mobiele kaartmasjien te bring dat hy met sy kaart betaal. Toe die joggie wegstap om die masjien te gaan haal, het die voertuig weggejaag.
Sekondes nadat die Renault weggejaag het, het ’n bakkie ook weggetrek met soortgelyke kanne agterop. Die vermoede bestaan dat die twee voertuie saam gery het.
Die CCTV-videomateriaal is nagegaan, maar die Renault het nie nommerplate gehad nie en kon nie nagespoor word nie. Die bakkie het aan die sykant verbygejaag en geen nommerplate was sigbaar nie. ’n Glimnaam aan die kant van die bakkie is egter ’n aanduiding dat dit ’n kontrakteursvoertuig is.
Mnr. Du Toit vra enige persoon wat moontlik inligting het oor die eienaar van die voertuig om hom te bel by
• ’n Maand gelede was daar ’n soortgelyke voorval by dieselfde motorhawe toe ’n Toyota Sprinter minibus brandstof gegooi en weggejaag het.
Sy registrasienommer is CPZ574L en behoort aan ’n ene mnr. Lesese van Longhillstraat 321, Steelpoort. Volgens personeel van Sasol Meyerstraat wag hulle nog vir die polisie om die finale verklarings te kom afneem oor hierdie voorval.
• Drie weke gelede het Janmy Dienste deurgeloop toe ’n ou model wit BMW in die vroeë oggendure (02:15) brandstof gaan ingooi het.
Die persoon het die joggie ook gevra om sy tenk vol te maak en vir die mobiele kaartmasjien gevra. Soos by die Sasol vulstasie, het die voertuig weggejaag, nadat R974 se brandstof ingegooi is. Ook met dié geval het videomateriaal gewys dat die persoon sy nommerplate afgehaal het.
Mnr. Jan Myburg (eienaar, Janmy Dienste) sê dit is ’n algemene probleem by vulstasies die afgelope paar maande dat mense wegjaag nadat brandstof ingegooi is. “Baie mense vat kanse en dit begin al hoe erger word.”
Hy het besluit om drastiese stappe te neem om dié diefstalle te probeer voorkom. Joggies moet dadelik kyk of die voertuig nommerplate het en as die voertuig dit nié het nie, moet joggies weier om brandstof in te gooi.
In die geval waar ’n persoon vra dat sy voertuig volgemaak word, moet hy vooraf sê of hy sy kaart of kontant gaan gebruik. As hy sê kaart, sal die joggie eers die kaartmasjien gaan haal, die kaart in die masjien (voor die kliënt) sit en dan die bedrag intik, sodra die voertuig vol is.
Waar daar besluit word op kontant, moet die persoon ten minste ’n R500 deposito vooraf vir die joggie gee.
