Crime

Skietery by meenthuis

Die poging tot moord saak van die vrou wat haarself verlede jaar 2013 oorgegee het ná 'n skietvoorval waartydens haar man vier keer in die rug geskiet is, se verhoor begin eersdaags.

Annemarie (Antz) Mulder (47) staan tereg op ‘n klagte van poging tot moord na die gebeure op 2 Oktober 2013, waartydens mnr. Seef Mulder gewond is.

Mnr. Mulder is op die stoep by hul meenthuis in die rug geskiet en is vir twee weke in die intensiewe eenheid van die Midmed Hospitaal vir sy beserings behandel.

Hy het ná die gebeure gesê “dat sy geskiet het om dood te skiet.”

Die aanloop tot die gebeure het hy toegeskryf aan “haar obsessiewe jaloesie”. Die betrokke aand was daar, volgens hom, weer ‘n woordewisseling.

Hy was nog besig om alles gereed te kry vir ‘n braai toe hy die eerste skoot hoor klap, waarop nog drie skote kort op mekaar gevolg het.

Kort daarna het hy gehoor hoe die deure gesluit word en ‘n voertuig vertrek.

Mnr. Mulder het aanvanlik vooroor geval, maar was bang hy verdrink in sy eie bloed en het op sy sy gedraai. Bure het hom later hoor kerm en die opsigter laat kom, waarna hy agter die bank op die stoep in ‘n plas bloed gevind is.

Me. Mulder het haar in dié tyd aan die polisie gaan oorgee en was die polisie voor die ambulans op die toneel.

Mnr. Mulder is in die regterlong gewond en die are en senuwees van sy regterarm is afgeskiet. Die skietwonde is veroorsaak deur ‘n .38 rewolwer.

Die poging tot moord saak teen me. Annemarie (Antz) Mulder gaan eersdaags op verhoor.
Die poging tot moord saak teen me. Annemarie (Antz) Mulder gaan eersdaags op verhoor.

• Me. Mulder het op 3 Oktober vlugtig in die hof verskyn en borg van R1 000 is aan haar toegestaan. Die saak is intussen verskeie kere uitgestel, waarna dit op die streekhofrol geplaas is vir verhoor in Augustus.

• Kort na haar eerste verskyning het me. Mulder aan ‘n joernalis gesê dat sy emosioneel en fisies mishandel is. Mnr. Mulder het later vir die joernalis gesê dat daar wel argumente was oor “haar jaloesie”.

Die bewerings van fisiese mishandeling het hy ontken en gesê dat sy hom “met die vuis op die ken geslaan het en toe sy weer op my afstorm, het ek my arm uitgesteek om haar van my weg te hou. Dit is al wat gebeur het.”

Back to top button