VIDEO: Man vlugtig in hof vir trokwiele
Die verdagte wat vasgetrek is op die Stoffbergpad nadat trokwiele verdwyn het, het Donderdagmiddag vlugtig in die hof verskyn.
Die trokdrywer, mnr. Trevor Bhanabho, het Dinsdagaand naby die nuwe verkeerslig in Meyerstraat van die pad afgetrek om te slaap.
Toe hy in die vroeë oggendure besluit om te ry, het hy harde skuurgeluide gehoor. Hy en sy assistent, Shingai Mukomeka, het ondersoek ingestel en gemerk dat twee wiele gesteel is. Terwyl hulle aan die een kant van die trok gekyk het wat aangaan, is nóg twee wiele afgesteel.
Die eienaar van die vloot trokke, mnr. Willem Fourie, asook die polisie en Kanonkop/Dennesig/Middedorp radiogroep is in kennis gestel.
Kort hierna is verdagtes op die Stoffbergpad opgemerk wat besig was om wiele op ‘n bakkie te laai. Twee van die mense het te voet die veld ingevlug en die ander twee het met die bakkie weggejaag.
Maluleka is in die veld gearresteer en toerusting waarmee trokbande afgehaal word, is gekry. Die ander booswigte het in ‘n jaagtog met die polisie naby die Motetema-pad met twee ander voertuie gebots. Vier mense is ernstig beseer in die ongeluk, maar die twee verdagtes het te voet weggekom.
Drie van die trokwiele is teruggevind.
