Eiendomsagent teen haar wil gesoen
'n Kliënt wat 'n eiendomsagent teen haar wil vasgedruk en gesoen het, is met R2 000 beboet.
Mohamed Raja (22) het Woensdag 06 Augustus in die landdroshof erken dat hy die 27-jarige vrou (wie se naam weerhou word) op 23 Januarie teen haar wil vasgedruk en gesoen het.
Raja (‘n Pakistani) is aangekla van seksuele aanranding.
Tydens die hofverrigtinge Woensdag het die vrou se emosies haar oorwelding en het sy snikkend uit die hof gehardloop.
Die vrou het vroeër vanjaar aan ‘n joernalis gesê dat sy as eiendomsagent op Raja se versoek ‘n eiendom vir hom gaan wys het.
Oppad na die huis het hy ongevraagde aanmerkings gemaak soos dat sy baie mooi is en dat hy meer as net vriende wil wees. Sy het hom kortgevat en gesê dat sy getroud is.
Kort hierna het hy gesê dat sekere kulture meer as een vrou het en wat sy daarvan sal dink om sy houvrou te wees. Sy het die gesprek in ‘n ander rigting gestuur.
Die agent het die inligting oor die huis verskaf en wou net aanstap, toe sy teen die kar vasgedruk is.
Sy het vertel hoe Raja haar teen haar wil begin soen en betas het. Sy het probeer loskom en toe sy dit nie regkry nie, het sy haar knie opgeruk en hom tussen die bene getref.
Dit het hom laat terugsteier, waarop sy weggejaag het. Die volgende dag het sy ‘n klagte van seksuele aanranding by die polisie aanhangig gemaak.
Die vrou het al die Watsapp boodskappe wat Raja na die voorval aan haar gestuur het aan die polisie gegee. Dit is as bewysstukke by die hof ingedien.
Na die voorval wou hy steeds hê dat sy vir hom ‘n blyplek moes soek. Sy het hom verskeie kere ferm in boodskappe aangesê om haar uit te los, waarop boodskappe soos “pleassssse” en “forgive me” gevolg het.
Die aanklaer, mnr. Alex Nkosi, het ter strafverswaring gesê dat Augustus juis vrouemaand is en dat howe die boodskap duidelik moet uitspel dat misdade teen vroue, veral seksuele misdrywe, nie geduld sal word nie.
Hy sê die klaer se reg tot privaatheid is geskaad en dat dit wat die beskuldigde gedoen deur die hof in ‘n ernstige lig gesien moet word.
Raja se regsverteenwoordiger, mnr. Ismael Essa, het ter versagting aangevoer dat Raja ‘n eerste oortreder is. Ook dat hy by verskeie geleenthede die
klaer per Watsapp verskoning gevra het.
Landdros Madelane Masango het tydens vonnisoplegging die ernstige aard van die misdryf beaam. Sy het in ag geneem dat Raja ‘n eerste oortreder is en dat hy in die hof verskoning gemaak het.
Raja is beboet met R4 000 of agt maande gevangenisstraf, waarvan die helfte opgeskort is vir ‘n tydperk van vyf jaar. Raja moes ‘n boete van R2 000 betaal. Hy mag hom in die volgende vyf jaar ook nie skuldig maak aan enige soortgelyke misdrywe nie.
