Nasaret mesmoord ‘n raaisel
Die polisie ondersoek 'n moord nadat 'n man Maandag in die vroeë oggendure in Midmed aan verskeie meswonde beswyk het.
Die omstandighede rondom mnr. Fillip Laya (37), se dood word nog ondersoek, en verskeie verdagtes is reeds ondervra in verband met die messtekery in Fort Napierstraat Sondagaand omstreeks 22:30.
Laya se bebloede liggaam is in die kombuis van die huis, wat aan sy meisie behoort, gevind met verskeie snywonde aan sy bolyf, kop en vingers.
Hy het Sondag vanuit Nelspruit hierheen gekom om die vriendin te besoek.
Die vrou, wie se naam aan die Observer bekend is, het op sy liggaam in die kombuis afgekom.
Sy was saam hom in die huis en beweer sy het ‘n klop aan die deur gehoor wat Laya beantwoord het.
Toe sy hom later gaan soek, het sy op die skoktoneel afgekom, hom in haar motor gelaai en met hom hospitaal toe gejaag waar hy dood verklaar is.
Die hospitaal het die moord aangemeld.
Mnr. Laya laat sewe kinders agter, en vriende en familie sal Saterdag by Kabokweni van hom afskeid neem tydens die begrafnis.
