Beloning vir ‘vriendelike man’
"Jy lyk vir my skelm, kom ek neem jou af." 'n Sakeman van Middelburg het nie geweet hoe waar sy woorde was toe hy die foto van 'n vriendelike man voor die poskantoor geneem het wat hom vir werk gevra het nie.
Die sakeman, wat versoek het dat sy naam weerhou word, sê dat hy Donderdagoggend voor die poskantoor gestop het, om uit te vind of ‘n pakkie waarop hy wag, al daar was.
Oppad terug na sy voertuig het ‘n vriendelike man hom genader.
Hy het gevra of daar nie dalk werk is vir hom by die man, wat ‘n konstruksie besigheid het nie.
“Ek sê toe dis reg, ek het vir jou werk,” het die sakeman vertel. Op die ingewing van die oomblik het hy ‘n foto van die man geneem, omdat hy net te vriendelik was.
Oomblikke later, nadat die man verdwyn het, het hy besef dat sy beursie, met R1 400 daarin, skoonveld is.
Die sakeman bied ‘n beloning aan enige iemand wat die man vir hom kan opspoor of uitwys.
Indien jy weet waar hierdie man homself bevind kontak Jana Boshoff by die Middelburg Observer se kantore 013 243 1434 of stuur ‘n epos na jana@mobserver.co.za.
