Jong rower slaan weer toe
Dieselfde jong rower wat twee weke gelede 'n bejaarde vrou gewurg en met 'n knopkierie geslaan het, het Vrydag 'n agttienjarige meisie gewurg.
Sy het presies dieselfde beskrywing gegee van haar aanvaller as me. Bell.
Deolene sê sy bly sedert die begin van die jaar by haar tannie-hulle (Carsten-gesin) in Walter Sisulustraat om haar studies te voltooi.
Sy het Vrydagoggend besluit om bietjie laat te slaap en het omstreeks 10:30 iets hoor breek. Sy het gedink dit is die huishulp, me. Mitta Maseko, wat iets laat val het, en was nie verder daaroor bekommerd nie. Hul worshond, Snippie, het egter aanhoudend geblaf.
Minute later het sy gesien haar selfoon se battery is pap en is na die sitkamer om die selfoon in te prop by die laaier. Sy was besig om af te buk toe sy merk dat Snippie sy kop opruk en geweldig blaf.
“Toe ek opkyk, het ons in mekaar se oë gekyk!” Die skraal jong booswig was bykans net so lank soos sy. Dit was duidelik dat hy ook vir haar geskrik het en sy oë het gerek.

Deolene het geweldig begin skreeu en in die gang afgehardloop na die hoofslaapkamer toe om by die paniekknoppie uit te kom.
By die hoofslaapkamer se deur, het hy haar van agter af beetgekry, sy arm om haar nek gedruk (presies soos in me. Bell se geval) en haar begin wurg. Met sy ander hand het hy só hard haar mond toegedruk dat haar tande haar mond aan die binnekant gesny het.
Hy het vir haar gesis: “Keep quiet!” en haar op die grond neergegooi. Deolene het regop gaan sit en pleitend vir hom gesê dat sy niks sal doen nie. Die booswig het haar net so gelos en is in by die slaapkamer. Daar het hy me. Maseko se selfoon, wat besig was om te laai, gegryp en weer by die kamer uitgekom.
Die oomblik toe hy by die kamer uit is, het Deolene by die hoofslaapkamer ingespring en die deur toegedruk. Sy het die handvatsel opgelig en met al haar krag vasgehou terwyl hy daaraan pluk. Toe sy sien hy pluk nie meer aan die deur nie, het sy vinnig met haar oë gesoek vir iets om voor die deur te sit.
Met adrenalien wat deur haar are pomp, het sy met bomenslike krag ‘n swaar linnekis tot voor die deur geskuif en in die kamer gewag.
Me. Maseko het op hierdie stadium by die badkamer uitgekom en haar vasgeloop in die rower. Hierdie keer was hy gewapen met ‘n besem en hy en me. Maseko het begin stoei. Hy het die hele tyd vir haar geskreeu: “Where is the money”.
Deolene sê die alarm het geweldig geraas en die rower het, nadat hy me. Maseko weggestamp het, tot by die kombuis gehardloop.
Die rower is terug tot by die venstertjie wat hy vroeër gebreek het.
Die polisie was al by hul huis, toe ‘n man met die naam “Nico” (Deolene weet nie wat is sy van nie) van Koppiestraat se kant af kom met hul skootrekenaar. Hy het vertel dat die rower by hom in die erf ingespring het en toe hy hom sien, het die booswig die skootrekenaar neergesmyt en weer oor die volgende muur gespring.
Me. Maseko se selfoon is later naby die venster waar dit uit sy sak uit geval het, gekry.
