Motorfietse gesteel
Twee motorfietse wat in die vroeë oggendure by Koelenhof plotte gesteel is, het spoorsnyers baie meer laat vind as waarvoor hulle aanvanklik gesoek het.
Mnr. Dries Heyns het Maandagoggend omstreeks 05:00 gesien dat sy seun, Wessel, se twee motorfietse, ‘n tweewiel veldfiets en ‘n vierwielmotorfiets, gesteel is.
Hulle het dadelik die spoor gevolg en ‘n hele ent onderkant die plot die vierwielmotorfiets agter ‘n bos opgespoor.
Hulle het egter aangehou spoorsny en vir etlike kilometers ver die motorfiets se spoor aanhou volg.
Volgens mnr. Heyns het die spoor gelei deur Avalon en deur die kloof tot by ‘n onbekende nedersetting in die kloof agter Botshabelo.
Daar het die spoor opgehou en hulle vermoed dat die diewe dit daar op ‘n bakkie gelaai het.
By die nedersetting het hulle egter verskeie beeskoppe, stukke vel en ore gekry van beeste wat geslag is. Kort voor druktyd het mnr. Heyns gemeld dat hy die veediefstaleenheid ontbied het, aangesien hy vermoed dat dit gesteelde beeste is wat daar geslag is.
