Opvolg: Nasaret verdeeld oor verpleegster
Die gemeenskap van Nasaret is verdeeld oor of hulle bereid is om drie moordverdagtes wat dié week elk vir borg aansoek gedoen het, in hul midde terug te verwelkom.
Beide die staat en verdediging het petisies by die hof ingedien, rakende borg vir Clayton Wallace (24), Desney Wallace (31) en Busisiwe Sanna Smith (37), wat teregstaan vir die mesmoord van Phillip Laya op 4 Augustus in Fort Napierstraat.
Laya is ses maal met ‘n mes in Smith, ‘n verpleër by Midmed, se kombuis gesteek.
Smith het met hom hospitaal toe gejaag, waar hy dood verklaar is.
Volgens die polisie is daar ‘n ooggetuie wat beskerm moet word teen intimidasie.
Die polisie het aangedui dat getuiebeskerming reeds aangevra is vir die ooggetuie wat in ‘n amptelike verklaring sou beweer dat Smith ook ‘n steek ingekry het die aand van die moord.
Smith het na die moord aan die polisie genoem dat sy en Laya in haar huis was toe daar aan die deur geklop is.
Hy het oopgemaak, waarna Smith gesien het hoe twee mans die huis binnekom en hom dadelik met messe takel.
Sy het haarself aan die polisie gaan oorgee en sameswering tot moord in ‘n liefdesdriehoek blyk die staat se aanslag te wees.
‘n Groot gedeelte van die gemeenskap is in oproer en doodsdreigemente is geopper, sou die driestuks borg kry Maandag nadat die verrigtinge uitgestel is Woensdag.
Op grond hiervan het die staat borg teëgestaan hoewel die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, mnr. Josef van Eeden, volgehou het dat daar selde lewenslaanslae op beskuldigdes gemaak word, wat wél hul verhore bywoon.
Mnr. Van Eeden was verder van mening dat die feit dat die ooggetuie se identiteit weerhou word, sy of haar veiligheid waarborg en dat die hof in elk geval nie oortuig is van die feit dat familie en vriende van die beskuldigdes, nie ook getuies kan intimideer nie, weens die geborgenheid van die gemeenskap waar almal almal ken.
Volgens die ondersoekbeampte, wat deur die landdros berispe is oor sy gedurige verwysing na mnr. Van Eeden “as die een wat die belangrikste prokureur in Middelburg wil wees,” is die petisie vir borg wat deur ondersteuners van die beskuldigdes ingehandig is, deur mnr. Van Eeden georkestreer.
Mnr. Van Eeden het in ‘n gespanne ondervragingsessie daarin geslaag om tekortkominge in die ondersoek, soos dat vaste eiendom en vorige en hangende strafsake teen die beskuldigdes nie nagespeur is nie, aan die hof te ontbloot.
“Die vrou werk vir ‘n hospitaal waar lewens gespaar word, nie geneem word nie, weg met die teef,” het gemeenskapslede in ‘n stampvol hof onder mekaar gefluister.
Volgens die staat kan die hof nie anders, op grond van die petisies, as om te vind dat beide die beskuldigdes en getuies in wesenlike gevaar is nie.
Die moordwapens is nog nie opgespoor nie.
Uitspraak is voorbehou tot Maandag en ten spyte van teenkanting uit die verdedigingsbank, bly die driestuks in aanhouding tot dan.
