Blixem steel beursie
'n Onderwyseres van Hoërskool Kanonkop het meer as 40 "likes" gekry na sy Dinsdag op Facebook gedreig het om 'n leerling se arms in suur te druk en sy ingewande te balsem vir uitstalling in haar klas.
Dié tong-in-die-kies tirade van die hemelsbesem, me. Pauli Maritz, wat kop en skouers bo die meeste van haar manlike kollegas uittroon, is geloods nadat haar beursie uit haar klas gesteel is.
Sy verwys na die “blixem” as ‘n seun, maar identifiseer hom nie.
Hopelik is “blixem” se bene so lank soos sy vingers want juffrou Pauli gee een tree waar ons ander vyf gee.
Juffrou Pauli waarsku hom, spelfoute en al – “Vir die klein blixem (geonderstreep, bold en 50x vergroot) wat my beursie gesteel het vandag…in my klas…ja jy…wat ‘n wit vel dra vir die grap…ek hoop jy het d@nners mooi opgelet toe ek jou van laboratoriumsure en fenolftaleien geleer het…want more gaan juffrou jou vieslike vuil vingertjies in ‘n bak vol suur druk tot dat jou handjies tot by jou skouers opgelos het…en daarna gaan jy lekker fenolftaleien suip sodat jou derms preserveer…en ek gaan dit wat van jou oor is in ‘n bottel fenolftaleien in forseer en jou in my klas uitstal vir die volgende 100 jaar…sodat almal kan sien hoe lyk ‘n klein krimineel soos jy!! Sê mooooooi tatta vir die maaitjies!”.
Juffrou Pauli gaan #-tag dan die volgende: #geejoulaastesentevirdieblixemsvirsnoepiedankryjydit, #gatvolverby, #diemoerin, #besigom’nkrokodilteborsvoed, #asjyniejoukindmanierekanleernie…moeniekindershênie en laastens #manierekomvandiehuisaf.
Die suur-juffrou waarsku dan “As jy die bostaande status enigsins as onaanvaarbaar/brutaal/kru beskou…my hart bloei regtig vir jou! Niemand het jou gedwing om dit te lees nie! Klim van Facebook af en gaan leer jou kind maniere!”.
Sy sluit haar plasing af met dié wenk: “As jy ‘n beursie wil steel…dude…selfs ‘n 3jarige kleuter se spaarbussie het meer geld in as ‘n onderwyser s’n! Dom drol!! #Geluk…jy wen ‘n opblaas breinsel!!”.
Die Observer het vlugtig met haar gesels om te hoor presies hoeveel sent in haar beursie was, maar juffrou Pauli wou nie sê nie.
Sy het toegegee dat sy nie ‘n benul het wie haar beursie uit haar handsak onder haar tafel uitgesteel het nie.
Sy wou niks meer sê nie omdat sy vrees “dat die hoof my keel gaan afsny!”.
Mnr. Martin Fourie, hoof van die skool, het Donderdag gesê dat die skool ‘n sosiale-media beleid het en dat “juffrou Pauli” ongelukkig buite dié beleid opgetree het met dié plasing.
“Mense moet onthou dat plasings, selfs in jou persoonlike hoedanigheid, oor jou werkplek, nagevolge het,” het mnr. Fourie gesê en bygelas dat hy die voorval van aangesig-tot-aangesig met die betrokke personeellid sal bespreek.
Hy het egter begrip vir haar frustrasie en woede en kon nie help om self uit te bars van die lag oor sekere stellings in die plasing nie.
Al wenk wat die Observer vir mnr. Fourie het: Mens foeter nie met ‘n suur vrou nie!
•Daar was egter inwoners wat woedend was oor die plasing en dit aan nasionale koerante en Radio Jacaranda gestuur het.
