‘Huiskopers’ slaan weer toe
Vroue wat hulself voorgedoen het as huiskopers, het derduisende rande se juweliersware gesteel by 'n huis in Dwaalbergstraat, Aerorand.
Daar word die afgelope vyf jaar al oor dié slinkse diewe geskryf en as ‘n mens kyk na die hoeveelheid foto’s wat al versamel is, is dit beslis nie net één groep wat bedrywig is nie.
In die jongste voorval is skade van meer as R100 000 gely!
Me. Janet Adamson kan steeds nie glo dat haar huishulp eers ‘n week ná die gebeure vir haar vertel het daar was mense in haar huis toe sy begin agterkom dat haar juwele, Tablet en selfone skoonveld is nie. “En ons huis is nie eers in die mark nie. Die diewe het net ‘n kans gevat!”
Me. Adamson sê sy het verlede Maandag al gewonder wat gaan aan toe sy nie haar Tablet kon vind nie. Sy het haar huishulp, Eneka Kubo, gevra waar dit kan wees, maar me. Kubo het volgehou dat dit by die huis moet wees.
Teen Donderdag het sy skielik agtergekom dat haar juwele skoonveld is.
Dié keer het sy besef daar is groot fout en vir me. Kubo gevra of daar enige mense in die huis was waarvan sy nie weet nie. Me. Kubo het toe skielik onthou dat daar ‘n week vantevore drie vroue was.
Me. Kubo vertel dat die drie gesê het dat hulle met die huiseienaar gereël het om in te kom om na die huis te kyk en sy het hulle binnegelaat.
Een van die vroue het met haar begin gesels en twee van hulle is die huis in. Me. Kubo sê die vrou het nog vir haar vertel haar van is Mahlangu en dat sy met ‘n ene Skosana getroud is. Sy het Ndebele gepraat.
‘n Ruk later het die twee ander vroue teruggekeer en in Ndebele vir haar gesê dat die huis “baie mooi is.”
Die drie vroue het daarna in ‘n metaalkleurige (silwer) Mercedes Benz weggery. Daar was ‘n man agter die stuur, wat buite gewag het.
Me. Kubo het opgemerk dat al drie vroue baie netjies geklee was met denimbroeke en T-hemde en dat almal groot handsakke gehad het. Hulle het almal lang swart pruike gedra.
Me. Adamson sê daar was baie juwele waaraan sy sentimentele waarde heg, soos pêrels, ‘n Krugermuntstuk-hangertjie en verskeie goue armbande wat gesteel is. “Hulle het net mooi in elke kas gekrap. Ek sal nou in die vervolg álles in ‘n kluis moet wegsluit!”
Me. Kubo het by die Observer na foto’s kom kyk van verdagtes wat op CCTV-kameras verlede jaar in Groblersdal vasgelê is, asook van ander verdagtes wat in Tzaneen gearresteer is. Sy het gesê dat dit beslis nie een van hulle is nie.
• Kort nadat me. Adamson op die Observer se Facebookgroep daarvan melding gemaak het, het me. Monica Janse van Rensburg gesê dat die vroue in die goue Mercedes Benz ook by haar was.
Haar huis is wel in die mark, maar sy het onraad vermoed toe die drie vroue inkom en met allerlei storietjies probeer het om alleen deur die kamers te gaan. Sy het hulle weggestuur met die woorde dat hulle die eiendomsagent moet kontak vir meer inligting oor die huis.
Toe hulle vertrek, het sy opgemerk dat hulle wegry met ‘n metaalkleurige Mercedes Benz en het op die ingewing van die oomblik besluit om hul registrasienommer te neem.
Sy het die registrasienommer aan me. Adamson verstrek en dit is deurgegee aan die polisie.

• Verlede week het twee vroue wat kwansuis padaanwysings wou hê, twee bejaardes van Groblersdal op soortgelyke wyse besteel. Een het haar besig gehou in die huis, terwyl die ander een die badkamer wou gebruik. Hulle is ook weg met duisende rande se juwele.
Die beskrywing van die voertuig is presies dieselfde as dié wat me. Adamson en Janse van Rensburg gegee het.
• Verlede jaar is ‘n vrou en twee mans op CCTV-kameras vasgelê toe hulle hulle as huiskopers in Groblersdal voorgedoen het. Ook hulle het verskeie artikels gesteel.
• Daar is die afgelope vyf jaar al verskeie voorvalle regoor Mpumalanga en Gauteng aangemeld en drie mense, twee vroue en ‘n man is verlede jaar in in Tzaneen ge-arresteer.
