Kuberkrakers steel by slangman
Die welbekende slangvanger, Victor Boshoff, het bykans R80 000 verloor in wat blyk 'n internet kredietkaart kuberskaking (hacking) vanaf Amerika te wees!
Volgens mnr. Boshoff, het hulle nie agtergekom dat die geld verdwyn nie, aangesien hulle byna nooit die kredietkaart gebruik nie en ook nie sms’e kry van banktransaksies op hul kriedietkaart nie.
Aanvanklik het die kuberkrakers (die bank se bedrogeenheid het bepaal dit is kuberkrakers vanaf Amerika) begin met klein bedraggies, soos R30, R300 en R500. Soms is tot sewe transaksies per dag gedoen! Maar hulle het van geen sout of water geweet nie.
Hy meld dat hulle slegs die kredietkaart in die laaste paar maande gebruik het om boeke te bestel deur ‘n bekende Internetmaatskappy. Hulle het eers besef iets is fout toe die bank hulle bel en laat weet dat iemand probeer om R23 000 te onttrek, maar dat daar nie genoeg fondse beskikbaar is nie.
‘n Geweldige skok het op hulle gewag. Toe hulle bankstate gaan trek, het hulle gesien dat daar sedert Juliemaand kort-kort bedrae, waaronder eenkeer ook R23 000, onttrek is.
Wat hulle dronkslaan is dat daar ‘n R5 000 limiet is op bedrae wat per dag getrek kan word, maar die groot bedrae is verspot-maklik gevat.
“Dit is hoe goed die hacking is!” het mnr. Boshoff ontsteld gesê.
Mnr. Boshoff was omgekrap toe hy die nuus by die bank kry en het in Wimpy gaan sit om koffie te drink en het per selfoon verdere besonderhede by die bank rakende die aangeleentheid gekry.
Kort nadat hy klaar met die bank gepraat het, het ‘n onbekende vrou na hom gekom en gesê dat “presies dieselfde” met haar gebeur het. Mnr. Boshoff sê sy het hom meegedeel dat die kuberkrakers selfs haar kredietkaartlimiet verhoog het en op een of ander manier die stelsel gedeaktiveer het wat sms’e van transaksies vir haar stuur.
Mnr. Boshoff sê hy gebruik byna nooit die kredietkaart nie en wend dit eintlik aan as ‘n spaarrekening waarin hulle ekstra gelde inbetaal. Hulle het nie besef daar is fout voordat daar nie meer geld beskikbaar was nie.
“Dit is erg om te dink dit is ‘n Internetsindikaat vanaf Amerika! Ek het nou die skok van my lewe gekry en kan nie anders as om paranoïes te wees nie. Ek het nog nooit eers Internet banktransaksies van my huis af gedoen nie! Ek is nou bang vir tegnologie. Niks is meer veilig nie! Ek wens ek kon net ‘n klein rukkie met die skuldiges ‘gesels’ in my slanghokke,” het hy ontstoke gesê.
• Verklarings is by die polisie en die bank se bedrogeenheid afgelê en die bank het mnr. Boshoff se gelde aan hom terugbetaal. Hy wil graag hul bankinstansie bedank wat hulle ondersteun het.
