Crime

Bejaarde slagoffer van plaasmoord

'n Bejaarde man is vanoggend in sy huis in die Tonteldoos omgewing naby Dullstroom vermoor.

Sarel janse van Rensburg (79) is in die kop geskiet met een van sy eie wapens. Hy was die opsigter op ‘n plaas genaamd Froggy Pond.

Een van die inwoners in die omgewing, Barry Labuschagne, het vertel dat hy deur mnr. Janse van Rensburg se buurman Alex Starbuck gebel en van die voorval in kennis gestel is.

Hy het dadelik ander mense in die omgewing laat weet om op die uitkyk vir die verdagtes te wees. ‘n Ruk later het Elize Nel laat weet dat daar twee mans in die pad loop wat ooreenstem met die beskrywing van die verdagtes.

Mnr. Labuschagne het hom na die toneel gehaas. Daar was reeds ‘n polisie voertuig wat die mans gekonfronteer het. Een van die verdagtes het weggehardloop maar is deur mnr. Labuschagne en ‘n polisie beampte aangekeer.

Daar is aanvanklik gedink dat mnr. Janse van Rensburg met ‘n mes doodgesteek is. Patologiese kenners op die toneel het egter bevestig dat hy in die kop geskiet is.

Dit blyk dat hy sy aanvallers in die huis betrap het. Hulle het reeds sy kluis oop gebreek. Die aanvallers het later wapens en ‘n sak met gesteelde goedere gaan uitwys naby die plek waar hulle aangekeer is.

“Die oom se badsakkie en ‘n paar rand is gesteel. Dit is waarvoor hy doodgemaak is,” het mnr. Labuschagne vertel.

Die aanvallers sal na verwagting more in die hof verskyn. Die Stoffberg Boerevereniging het reeds laat weet dat hulle gaan versoek dat borg tee gestaan word.

Boere in die omgewing het soos een man saamgestaan en hulle uit verskeie oorde geprys vir hulle vinnige optrede.

Mnr. Janse van Rensburg se broer is ‘n paar jaar gelede ook tydens ‘n plaasaanval in Limpopo vermoor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button