Dief krap met arm deur venster
'n Inbreker het 'n gat gemaak in 'n venster en met 'n besemstok sy buit nadergekrap.
Shane van Rooyen (‘n reaksie-offisier van Mid-Alarms) kon Sondagoggend sy oë nie glo toe hy dit opmerk tydens ‘n patrollie nie.
Hy is omstreeks 06:20 uitgeroep na ‘n kliënt in SADC straat. Nadat hy gevind het dat alles in orde is, het hy besluit om patrollie in die omgewing te ry, aangesien daar gereeld inbrake is by besighede naby die Iraq Taxi staanplek.
Toe hy indraai by die area, het hy dadelik die booswig aan die buitekant van Goraya Cellular opgemerk. Met sy arm deur ‘n gat in die venster, het die inbreker met ‘n besem vir hom buit, waaronder selfone, laaiers en ‘n draagbare radio, nadergekrap. Die gat in die venster is met ‘n baksteen gemaak.
Die oomblik toe die inbreker die voertuig van Mid-Alarms opmerk, het hy die sak (waarin daar reeds verskeie gesteelde items was) neergesmyt en begin hardloop.
Mnr. Van Rooyen het hom dadelik te voet agterna gesit en gesien dat hy in ‘n stegie agter die winkels in verdwyn het. “Hy het oor twéé stelle palissades gespring!”
Hy het hom egter fyn dopgehou en besef dat hy moontlik by een van die badkamers gaan skuil het.
Hy het sy kollega, Beneen Groenewald, per radio gekontak vir bystand, aangesien hyself oor ‘n muur geklim het om die dief vas te trek. Minute later het hulle die verdagte agter ‘n badkamerdeur gekry.
• Alle aanduidings is dat dié dief dieselfde oggend betrokke was by ‘n inbraak by ‘n vragmotor wat in die omgewing gestaan het.
Die trok se agterste passasiersvenstertjie is met ‘n selfoon stukkend gegooi, waarop die diewe hul arm deur die venster gesteek, die trokdeur van binne oopgesluit en dit oopgemaak het. Die stukkende selfoon is op die pad langs die trok gevind.
Die trokdrywer het wakker geword toe twee diewe in die trok klim en die skootrekenaar steel. Hulle het egter uitgespring en weggehardloop toe hy hulle wou konfronteer.
• Patrick Motalane (24), van Mhluzi, het Maandag vlugtig in die hof verskyn. ‘n Klagte van inbraak by ‘n besigheidsperseel word teen hom ondersoek.
• Die selfoonwinkel is ook ‘n kliënt van Mid-Alarms, maar die dief was slim genoeg om buite sig van die sekuriteits-ogie die gat in die venster te maak. Die vermoede bestaan dat hy moontlik op ‘n stadium hom voorgedoen het as kliënt van die winkel om te kyk waar die ogies oral geplaas is.
