Dalk nie einde vir Kidson
Die familie van Louis Groenewald, wat dood is nadat hy op 23 Maart 2013 deur Freddie Kidson teen die kop geslaan is, het die Nasionale Vervolgingsgesag genader vir verlof om teen Kidson se vonnis te appelleer.
Hul regsverteenwoordiger, mnr. Danie Koekemoer, het aan die Middelburg Observer bevestig dat hy in opdrag van die Groenewald familie vertoë gerig het aan advokaat Retha Meintjes. Adv. Meintjes het onder andere die saak hanteer van Johan Kotze, die Modimolle Monster.
Kidson, wat aanvanklik van moord aangekla is, het na ‘n pleitooreenkoms met die staat skuldig gepleit op aanklag van strafbare manslag. Hy is tot agt jaar tronkstraf gevonnis, wat opgeskort is vir vyf jaar.
Hy het drie vorige veroordelings, waarvan een ‘n skuldigbevinding vir aanranding met die opset om ernstig te beseer is. Dit volg na ‘n voorval in November 2000. Hy is tot R2 000 boete en 12 maande gevangenisstraf opgeskort vir vyf jaar gevonnis.
Die vorige veroordeling kon nie as verswarende omstandighede gebruik word tydens vonnisoplegging nie, omdat dit meer as tien jaar voor die laaste voorval gebeur het.

Die hof het egter in ag geneem dat Kidson ‘n geskiedenis van geweld het en dat dit nie die eerste keer is wat hy in die hof verskyn in verband met ‘n geweldsmisdaad nie.
Indien adv. Meintjes bevind dat daar ‘n onreëlmatigheid tydens die hofverrigtinge plaasgevind het, kan die saak na die hof terugverwys word om in die appelhof herverhoor te word.
Mnr. Koekemoer sê dat die Groenewald familie se aksie kom omdat hulle ontevrede is oor die opgeskorte vonnis wat Kidson opgelê is. Hulle meen ook dat hulle nie behoorlik deur die staat gekonsulteer is oor die pleitooreenkoms wat die aanklag van moord na strafbare manslag verander het nie.
• Een van Groenewald se vriende, wat op versoek anoniem bly, was ‘n ruk gelede by ‘n geveg voor Burger Hut betrokke, waarna die slgoffer, ook ‘n jong inwoner, selfmoord gepleeg het weens die vernedering.
