Die laaste boom
Seldsame broodbome op die plaas Doringboom het een na die ander verdwyn, tot daar niks behalwe 'n paar verdroogte blare en ysterpale, waarmee die boom uitgekap is, agtergebly het nie.
Die laaste broodboom is vermoedelik laat verlede week deur stropers uitgekap. Die gereedskap waarmee hulle die verwoesting gesaai het, drie ysterpale, is sorgeloos agtergelaat. ‘n Afwesigheid van voertuigspore dui aan dat die stropers heel moontlik te voet beweeg het.
‘n Lid van Natuurbewaring, Jannie Coetzee, sê dat die boom heel waarskynlik sal vrek omdat dit baie moeilik is om aan die lewe te hou as dit eers ontwrig is.
Die uiters skaars broodbome is gesogte plante onder versamelaars. Omdat dit honderde jare vat om te groei is plantjies wat van saailinge af gekweek word klein en probeer mense dikwels kortpaaie vat deur ‘n reeds volgroeide boom uit die veld te vat.
Honderde jare is iets wat nie juis meer aftrek in vandag se kits-lewe kry nie.

‘n Broodboom soos die een wat uitgekap is was heel waarskynlik reeds daar toe die Voortrekkers Transvaal binnegekom het, toe Middelburg se eerste huisie gebou is en toe 1 381 vrouens en kinders dood is in ‘n konsentrasiekamp net ‘n klipgooi daarvan tydens die Anglo Boere Oorlog.
Die boompie het ook toegekyk hoe Botshabelo gestig is en ten gronde gegaan het.
Mnr. Coetzee meen dat die stropers heel moontlik reeds ‘n koper gehad het voor hulle die boom gaan uitkap het. Hulle mag dalk ook ander bome in die omgewing teiken.
‘n Verteenwoordiger van die Parkeraad in Nelspruit het versoek dat boere wat van die bome op hul plaas het, dadelik ‘n saak by die polisie gaan oopmaak as stropers die bome kom steel, al lyk dit asof daar geen leidrade is nie.
DNS monsters op ‘n spesifieke boom kan op ‘n latere stadium met ‘n diefstal verbind word en help om ‘n sterker saak teen die onwettige eienaars en handelaars in besit van die boom te bou.

