Lapstelers gesien
Kilometers pienk lap is al deur Middelburg inwoners opgekoop om hul bome in toe te draai en so deel te wees van die Pink Trees for Pauline-projek wat landwyd geloots is.
Net so vinnig soos wat die lappe om bome gedraai word, is daar egter mense wat dit af steel. Die Middelburg Observer het verneem van verskeie voorvalle waar die lap van bome af verdwyn het.
‘n Ooggetuie het gesien hoe twee hoërskoolmeisies die lappe om die bome in Weeberstraat af steel.
Daar is verlede Dinsdag berig hoe dat die pienk lap van agt bome, wat deur Ena van den Berg en haar tuinman, Jacky Simbanyoni, versier is, afgesteel is.
Die pienk lap is deel van die Pink Trees for Pauline-projek wat kankerbewustheid aanwakker en waarmee geld vir plaaslike kankerpasiënte ingesamel word.
Me. Van den Berg het aan die koerant vertel dat die lappe vermoedelik twee Woensdae terug van die bome af gesteel is. Die skade beloop sowat R400.
Daar is intussen van ‘n betroubare bron vermeem dat ‘n ooggetuie gesien het hoe twee meisies in skooldrag die lappe van die bome verwyder.
• Leigh Brandmuller, ‘n lid van die Rotariërs en die vrou aan stuur van die Pink Trees for Pauline-projek in Middelburg, sê dat sy kort-kort nuus ontvang van lappe wat van bome af gesteel word.
“Dit is jammer dat mense dit steel, want dit gaan tog op die ou einde vir ‘n goeie doel,” sê Me. Brandmuller.
Sy sê dat hulle al meer as sewe kilometer se lap verkoop het en dat daar nog baie lap beskikbaar is.
Die lappe moet aan die einde van November, wanneer die veldtog eindig, weer afgehaal word. Me. Brandmuller versoek dat mense dit dan vir ‘n goeie doel sal skenk.
Sy raai aan dat mense dit by die CMR kantore aflaai, sodat dit weer vir plaaslike handewerkprojekte in minder gegoede gebiede aangewend kan word.
• Die Middelburg polisiewoordvoerder, kapt. Khanyisile Zwane, sê dat daar geen diefstalsake in die verband geopen is nie.
• Om deel te word van die Pink Trees for Pauline-projek, gaan koop jou pienk lap vir R20 ‘n meter by Ninfa Tuinsentrum, die CMR of Kumon.
Kontak Leigh Brandmuller (082 800 2255), Jacolien de Kock (072 282 7962), Janet du Preez (083 976 0860 of Madelise Leathes (072 620 5765) vir meer inligting.
