Opvolg: Vrou herken pangaman
Die slagoffer van 'n wrede panga-aanval vroeër vanjaar by Pienaardam, het haar aanvaller in die Pretoria Sentraal polisiestasie positief uitgeken.
“Ek sal daardie gesig nooit vergeet nie!” het me. Catharina Fourie hierdie week gesê.
Me. Fourie was saam met haar suster, Cecilia, by dié polisiestasie nadat Cecilia die betrokke dag by ‘n busstaanplek beroof is. Sy het gesit en wag vir me. Fourie, wat teruggekeer het per bus vanaf ‘n begrafnis. ‘n Booswig het haar selfoon deur die venster gegryp en ‘n barmhartige samaritaan het die dief vasgetrek.
Met me. Fourie se aankoms by die halte, is hulle na die polisiestasie sodat hulle ‘n klagte kon gaan open.
Daar gekom, het me. Fourie yskoud geword toe sy die verdagte (wat haar suster se foon gegryp het) van die kant af sien. Sy kon slegs die kant van sy gesig sien, want hy het op sy arms in die polisiestasie gelê.
Me. Fourie het ‘n polisieman gevra om hom op te laat kyk, waarop sy onbeheersd aan die bewe gegaan het. “Dit was asof ek my vinger in ‘n elektriese prop gedruk het! Ek het die man wat my so met die panga aangeval het, dadelik herken. Ek het die identikit wat ek op my foon het, vir die polisieman gewys en vir hom vertel wat gebeur het!”
Me. Fourie sê die booswig se hare was bietjie langer en hy het intussen ‘n snor bygekry, “maar dit is beslis hy!”
Die ondersoekbeampte, adj. Tobias Mogadime, het kort daarna by haar ‘n verklaring geneem.
Hy het aangedui dat hy vandag (Dinsdag) na Pretoria Sentraal Polisiestasiestasie gaan pendel om ‘n verklaring by die polisiebeampte te kry aan wie me. Fourie haar aanvaller uitgewys het.
‘n Panga-aanvaller het mnr. Van der Merwe se been oopgekloof, waarna sy makker mnr. Van der Merwe verskeie kere oor die kop geslaan het. Hy is só hard oor die kop geslaan dat hy sy bewussyn verloor het.
Me. Fourie het later die hameraanvaller uitgeken as Mduduzi Nkosi na aanleiding van ‘n foto wat die Observer vir haar gewys het. (Nkosi het uit polisieselle ontsnap, terwyl hy verhoofafwagtend was vir verskeie sake, waaronder moord. Die hameraanval het plaasgevind nadat hy ontsnap het).
Die panga-aanvaller het me. Fourie gewelddadig gemartel en sy is met die panga oor haar blad, bors, hand en maag gekap. Nadat selfone en ‘n beursie geroof is, het hy omgedraai en vir me. Fourie gesê: “I will be back for you!”
Sy het na die aanval gesê dat hy ‘n geroeste panga gebruik het en dat hy op ‘n stadium ook na haar keel gekap het. Sy het egter gekeer en haar duim is byna van haar hand afgeruk met die kaphou wat gevolg het.
Me. Fourie sê sy weet nie wanneer haar aanvaller vir sy dade in Middelburg in die hof gaan verskyn nie en dat sy wag vir terugvoer van die polisie af.
