Twee steel hondjies – Aan troeteldierwinkel verkoop
'n Vrou het haar hondjie wat uit haar erf weggeraak het, by 'n troeteldierwinkel opgespoor.
Petro Swart se Pekinees tefie, Jessie, het verlede week weggeraak. Sy en haar seun, Johan, het oral gesoek.
Hulle het hul hondjie by Garfield Petshop opgespoor nadat hulle Saterdag ‘n advertensie op Facebook gesien het waar ‘n tefie, wat baie soos Jessie gelyk het, vir R500 geadverteer is.
Sannie Uys van die troeteldierwinkel sê dat daar Vrydagmiddag twee jong mans met die hondjie ingekom het. Hulle het vertel dat hulle Pretoria toe trek en die hondjie dringend moet verkoop.
Hulle het die hondjie op haar naam genoem en sy het hulle gevolg, wat die troeteldierwinkel vir geen oomblik laat wonder het of sy dalk gesteel is nie.
Daar is aan hulle verduidelik dat die troeteldierwinkel nie groot honde koop nie en dat die klein hondjies wat daar te koop aangebied word, in die oggende afgelaai en in die middae deur hul eienaars opgelaai en huistoe gevat word.
Hulle het besluit om die hondjie tog maar te koop, toe die mans dreig dat hulle die hondjie dan aan die eerste en beste persoon op straat gaan verkoop.
Mev. Swart sê dat haar hondjie ‘n rukkie gelede agter twee mans aangehardloop het en dat sy haar teruggeroep het.
“Hulle moes toe seker haar naam gehoor het.”
Die twee mans se identiteit is aan die Middelburg Observer bekend. Mev. Swart sê dat sy van plan is om ‘n saak van diefstal by die polisie te gaan open.
