Motor gekaap
Owerhede en inwoners was op hol, nadat 'n vrou op die Middelburg Observer Facebook groep laat weet het, dat haar seun Donderdagoggend vroeg gekaap en langs die pad afgegooi is. Sy Nissan NP200 bakkie was skoonveld.

Alan Botha het gesê dat hy ongeveer 04:00 naby die drie-rigting-stop by die weegbrug ,op die ou Witbankpad, gekaap is.
Hy het glo gestop om te urineer, toe twee mans hom nader. Sy ma, Elna, het vertel dat die woorde “kom ons vat jou huistoe,” die laaste ding was wat haar seun kon onthou, voordat hy in Middelburg wakker geword het.
Hy was toe glo in Hope City en is wakker gemaak deur die geskree van ‘n sekuriteitswag: “You white guys think you can come here and **** our women.”
Volgens mev. Botha was haar seun deurmekaar. Toe hy weer tot sinne kom, was sy motor skoonveld. Hy het van Hope City tot by sy huis in Clubville geloop en sy familie van daar gebel. Hulle vermoed hy is dalk deur iemand bedwelm.
‘n Vrou, Annatjie Jonker, het op die Facebook plasing kommentaar gelewer en gesê dat sy die Nissan bakkie omstreeks 05:30 by die Beyers Naude- en Wesstraat kruising gesien het, toe die voertuig haar amper getref het.
Kort daarna het iemand van die Middelburg hospitaal na die Observer kantore gebel om te sê dat hulle ‘n huissleutel met die naam Alan Botha by die verkeerslig, waar Walter Sisulu- en Hospitaalstraat kruis, opgetel.
Mev. Botha het gesê dat nog iemand van mnr. Botha se klere en werksdokumente langs die pad opgetel het.
Teen 09:00 was daar steeds geen saak by die polisie aangemeld nie. Mev. Botha het gesê dat haar seun self rond ry om sy voertuig te soek. Sy is aangeraai om hom te stuur vir bloedtoetse sodat enige vreemde middels dadelik nagespoor kan word.
‘n Paar uur later het ‘n kontak in die polisie laat weet, dat die voertuig by Hope City teruggevind is.
Rehana Pilodia, voorsitter van die gemeenskaps polisiërings forum, het op Facebook gesmeek dat mnr. Botha ‘n saak oopmaak. Sy het gesê dat daar ‘n polisie beampte by hom was en dat hy volstrek weier om ‘n saak te open.
Mev. Botha het op Facebook laat weet: “Baie dankie vir almal wat kragte saamgespan het… Ons sal nie ‘n saak maak nie, omrede die bakkie gekry is. Alles (is) uit die bakkie gesteel en radio is uitgebreek. Glo dit het te doen met al die drugdealers wat hier in Middelburg is. Ons is net bly Alan is veilig.”
“Ek dink dit is pateties. Hy het die ouens herken maar hy weier om ‘n saak oop te maak, hy weier om te sê wie die ouens is,” het mev. Pilodia gesê.
