Video: Dief op video vasgevang
Elf hekmotors is die laaste twee weke op die dorp gesteel.Volgens inligting tot die Middelburg Observer se beskikking, het meeste van die diefstalle in die Kanonkop en Dennesig omgewing plaasgevind.

Daar is twee Saterdae terug twee hekmotors in Amajubastraat gesteel en nog een om die hoek in Werdastraat. ‘n Poging om nog ‘n hekmotor in Amajubastraat te steel, was onsuksesvol.
Volgens een van die inwoners, Nico Prinsloo, het die diewe geweet wat hulle doen. Een van sy hekmotors is versigtig ontkoppel, die tweede een se drade is uit die grond geruk, toe die boewe vermoedelik skrik op die lyf gejaag is.
Verlede week het verskeie inwoners deurgeloop. Daar is hekmotors in Renoster- en Springbokstraat gesteel. Heleen Liebenberg het op die Middelburg Observer se Facebookgroep laat weet dat daar twee hekmotors in Sipresstraat oor die naweek gesteel is.
Kaptein Khanyisile Zwane sê dat daar verlede week Dinsdag vier hekmotordiefstalle aangemeld is. Die polisie self het deurgeloop en moet met groot onkostes die hele polisiestasie se afstandbeheerders verander, nadat hul eie hekmotor gesteel is.
“Dit is belangrik dat jy een of ander manier kry om jou hekmotor te sluit, sodat dit nie so maklik gesteel kan word nie.”
Videomateriaal van een van die diefstalle is van ‘n huis in Renosterstraat bekom. Gaan kyk na die video op ons webblad www.mobserver.co.za.
Indien iemand die man op die video herken word hulle versoek om die Middelburg Observer te bel by 013 243 1434
