Lasbrief vir verdagte
Drie van die vier mans wat verdink word dat hulle in Desember 2012 'n boervrou, Elizabeth Lighthelm, in Stoffberg aangeval en beroof het, het in die hof verskyn.
Bokong Patrick Mpobane (22) van Mamelodi, Ephraime Motome Manyathela (31) van Turfloop, David Mashabela (32) van Lotus Garden en Tomson Enock Sibeko (28) van Sehlakwane, word aangekla van roof met verswarende omstandighede, poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer en menseroof.
Daar word beweer dat hulle die plaas van mev. Ligthelm op 11 Desember betree het, van haar werkers vasgebind het en haar met ‘n tuinvurk geslaan het, voordat hulle verskeie items gevat het.
Die items sluit in goue horlosies, videokamera, skootrekenaar, R9 000 kontant en verskeie vuurwapens.
‘n Lasbrief om arrestasie is uitgereik vir David Mashabela nadat hy versuim het om die hofverrigtinge by te woon. Al vier beskuldigdes is uit op borg. Hul saak is tot Januarie vir verhoor uitgestel.
