Duur boot gesteel
'n Boot is ten spyte van streng sekuriteit in Desember uit 'n besigheidsperseel in Middelburg gesteel.
Inwoners Wayne en Melanie van Rooyen het intussen ‘n R10 000 beloning aangebied vir inligting wat sal lei tot die opsporing van hul boot en die mense wat dit gesteel het.
Mnr. Van Rooyen kon daarin slaag om die verdagte voertuig en sy boot op videomateriaal by die Diamond Plaza tolhek tussen Pretoria en Bronkhorstspruit op te spoor. Die inligting is aan ‘n privaat speurder gegee om op te volg.
Die registrasienommer van die voertuig behoort aan ‘n man wat in Eersterust naby Pretoria bly. Hy is kort na die voorval gearresteer en het reeds in die Middelburg landdroshof verskyn. Die verdagte beweer dat hy die voertuig aan iemand anders verkoop het wat versuim het om dit op sy naam te registreer. Hy is op R2 000 borg vrygelaat.
• Hierdie is volgens polisie rekords die enigste boot wat in 2014 in Middelburg gesteel is.
• Die identiteit van die beskuldigde word vir eers anoniem gehou omdat die polisie se ondersoek op ‘n sensitiewe stadium is.
