Crime

Video: Patrys Woensdag uit motor gered

'n Vrou het Woensdag 14 Januarie gesien hoe 'n hondjie aan sy halsband opgetel, rondgeswaai, geskop, en toe weer in 'n kar gesmyt is.

Dit het alles voor Driekie van der Merwe afgespeel, terwyl sy na die nou reeds berugte geel Datsun staan en kyk het, wat al twee maande in die oop veld tussen Dennesig en Kanonkop geparkeer is.

Sy het die Observer gebel en gesê dat terwyl sy by haar ma in Sipreslaan gekuier het, het sy gesien hoe ‘n vrou in die kar die hondjie mishandel.

Die koerant het die Dierebeskermingsvereniging van die voorval in kennis gestel, wat na die toneel is.

‘n Verwaarloosde vrou het senior DBV inspekteur, Petro Oberholzer, en die joernaliste ingewag.

Die Erasmus egpaar se motor staan verlate onder 'n boom in die park tussen Kanonkop en Dennesig.
Die Erasmus egpaar se motor staan verlate onder ‘n boom in die park tussen Kanonkop en Dennesig.

Janetta en Rassie Erasmus bly nou al vir weke in haglike omstandighede in die kar. ‘n Sterk reuk, vuilgoed toegebind in winkelsakkies en ‘n vervalle kar met ‘n paar armsalige besittings en halfgeëte blikkieskos was op die toneel.

Om vir Janetta buite haar motor te sien is ‘n rare gesig omdat sy bykans die hele dag in die kar deurbring en selde bene rek.

Haar voete is pikswart besmeer, tussen haar linkerhand se vingers smeul ‘n sigaret. As sy met die DBV inspekteurs praat, is haar stem sag en pleitend.

Daar is in April 2014 berig oor Rassie Erasmus wat destyds voor die Midwater Engen vulstasie in sy motor gesit het. Sy familie het vertel dat sy vrou in eMalahleni in die tronk was, nadat sy met dwelms in haar besit betrap is. Hy het glo vir haar gewag.

Mnr. Erasmus is daarna by verskeie plekke in Middelburg opgemerk, onder andere in Laverstraat in Junie verlede jaar.

Tydens die Middelburg Observer se besoek aan die motor Maandagoggend het mnr. Erasmus swetsend by ‘n gleufie deur die voorste venster geskree dat die joernaliste hul uit die voete moet maak.

Hy was nie tydens Woensdag se besoek in die motor nie. By navraag het mev. Erasmus gesê dat die joernalis hom maar self moet gaan soek.

Janetta Erasmus oorhandig haar hondjie aan senior inspekteur Petro Oberholzer van die DBV.
Janetta Erasmus oorhandig haar hondjie aan senior inspekteur Petro Oberholzer van die DBV.

Later het sy aan die DBV inspekteur gesê dat hy tans in die hospitaal is “nadat hy met ‘n mes in die kop gesteek is”.

Mev. Erasmus het ten sterkste ontken dat sy haar hondjie leed aangedoen het.

“Ek is baie lief vir haar. Lyk dit vir jou of ek haar skop?” Patrys is ‘n foksterriër-kruising van ‘n paar maande oud.

Inspekteur Petro Oberholzer het aan mev. Erasmus verduidelik dat hulle die hondjie sal moet vat omdat die diertjie nie in ‘n kar kan bly nie.

Die spelerige Patrys was maar te bly om bietjie bene te rek. Sy sal nou gebad, ontwurm en vir vlooie behandel word en vir ‘n sewe dae aangehou word om die Erasmus egpaar grasie te gee om vir haar beter blyplek te bied. Daarna sal sy beskikbaar gestel word vir aanneming.

• Gaan kyk op die Middelburg Observer se webblad www.mobserver.co.za hoe Patrys gered is en later met me. Oosthuizen speel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button