Waar is Hannelie?
Hannelie Wessels se stryd met dwelmverslawing duur voort. Haar geliefdes is dood bekommerd, nadat sy 'n paar dae gelede soos 'n groot speld verdwyn het.
“Vir al wat ons weet lê sy êrens langs die pad. Ek soek haar net terug, ons het vir haar blyplek gereël. Daar is hulp. Sy moet net terug kom,” sê Suster Marietha Petzer, wat haar al vir dwelmverslawing behandel het.
Me. Wessels se baba is kort na haar geboorte in 2014 by haar weggevat. Daar word vermoed dat sy telkemale tydens haar swangerskap heroïen gebruik het en die baba het aan onttrekkingsimptome gely van haar eerste asemteug af.
‘n Klag van diefstal is verlede jaar teen me. Wessels gemaak, nadat sy glo ‘n selfoon by weldoeners, wat haar ingeneem het, gesteel het.
Koppiestraat was vir ‘n rukkie haar tuiste, maar ook daar is sy uitgeskop. Sy het toe in Mhluzi by iemand gebly en daarna weer vir ‘n rukkie in Middelburg gedurende die begin van Desember. Dit is tydens haar tyd hier, dat daar gereël is dat sy haar kind, wat in pleegsorg geplaas is, vir die eerste keer in ses maande kon vashou.
Die destydse reëling was dat sy haar kind kon besoek, mits sy negatief toets vir dwelms.
Sy het kort daarna weer verval en teruggetrek Mhluzi toe. Dit was die laaste wat daar van haar gehoor is.
Indien iemand me. Wessels êrens opmerk, word hulle versoek om suster Petzer dadelik te bel by 083 226 3754.
