Video: Dokter met mes gesteek
Die man wat die welbekende pediater, dr. Alan Kok, met 'n mes gesteek het, sê hy het homself "verdedig" omdat die dokter hom aangeval het.
Mnr. Liam Niemandt (30) sê: “Hy het verskeie kere in die afgelope paar maande gesê dat hy my gaan kom doodmaak en my vrou en kinders vat. Vrydag het hy dit wéér ‘n paar keer gesê, waarop ek dit vir hom duidelik gestel het dat ek myself dan sal verdedig.”
Sien Video hier:
Mnr. Niemand vertel dat hy en sy vrou, Chantal, Vrydagmiddag weer gestry het oor haar beweerde buite-egtelike verhouding met dr. Kok.
Die egpaar ken dr. Kok omdat hy hul jongste dogtertjie, wat baie siek is, sedert haar geboorte bystaan.
Sy was op ‘n stadium doenig met haar foon en hy het besef dat sy besig is om met die dokter te praat. Terwyl sy op die foon besig was, het hy verskeie kere die foon by haar probeer afvat. Sy het egter hewig gekeer.
In dié proses, het sy arm teen haar arm gestamp en sy het oor die telefoon vir dr. Kok geskree “dat Liam haar aanrand”.
Mnr. Niemandt sê hy het die foon in die hande gekry en dr. Kok gevra om sy vrou met rus te laat. “Hy het geskree dat hy na my huistoe gaan kom en my gaan opf&k. Hy het my ook beskuldig dat ek my vrou aanrand en ek het vir hom gesê dat ek haar beslis nie aangerand het nie.
Hy het egter nie geluister nie. Hy het gesê hy gaan my kom doodmaak en Chantal en die kinders vat!”
Volgens mnr. Niemandt het die dokter hom uitgedaag om hom by Virgin Active te ontmoet en die mans het oor en weer op mekaar gevloek.
Mnr. en me. Niemandt was buite hul huis in Duiwelspiekstraat, toe dr. Kok by die oprit inry. Mnr. Niemandt beweer dr. Kok het teen die hek begin slaan en geskreeu dat hulle die hek moet oopmaak.
Me. Niemandt het intussen haar ouers gekontak en hulle het ook by die huis opgedaag. Sy het ook vir haar pa, mnr. Dirk Venter, gesê dat mnr. Niemandt haar aangerand het. Hulle het vir dr. Kok die hek oopgemaak.
“Die oomblik toe die hek oopgaan, het dr. Kok my aan die hemp beetgekry, maar ek het hom weggestoot. Ek het duidelik vir hom gesê ek is gewapen, maar hy het nie geluister nie en hard geskreeu: “Ek gaan jou f..k..n doodmaak!” Ek het wéér gesê, Alan, ek is gewapen, ek wil nie met jou baklei nie!”
Mnr. Niemandt sê dat dr. Kok weet daar is kameras by hul huis en hy het hom (mnr. Niemandt) daarop by die motorhuis ingestamp. “Hy het my aanmekaar geslaan en ek het deurentyd gesê hy moet ophou, ek gaan myself verdedig. Toe dit nie ophou nie, het ek my jagmes uitgehaal en hom gesteek om hom van my te probeer afkry.”
Hy sê nie eers die messteke het die dokter ondergekry nie. “Hy het my omgestamp en my in die gesig en ribbes begin skop. Hy het my ook met die besem geslaan. My skoonpa het hom gehelp om my aan te rand. Terwyl hy my geskop het, het hy geskree: ‘Kyk wat kan ‘n 57-jarige man doen!”
Kort hierna het dr. Kok gesien hy bloei erg en het mnr. Niemandt se skoonpa gevra om hom hospitaal toe te neem.
“Ek vrees nou vir my lewe! Hy was al voorheen gewapen by my huis en het talle kere gedreig hy gaan my skiet. Na hierdie voorval gaan hy beslis terugkom om my te skiet! En weet jy wat is die ergste? Ek is steeds lief vir Chantal!”
• Mnr. Niemandt het aangedui dat sy vrou hom die afgelope paar maande verseker het dat sy nié ‘n verhouding met dr. Kok het nie. Sy het egter Vrydagaand erken dat sy wel ‘n verhouding met hom het en dat hulle selfs saam vir ‘n week in die Kaap was.
• Mnr. Niemandt het ‘n video aan die Observer verskaf waar ‘n mens sien waar dr. Kok ‘n paar weke gelede by die Niemandts se huis was (nadat mnr. Niemandt gery het). Op die video het dr. Kok ‘n wapen aan sy sy. Daar is ook ‘n ander persoon wat saam met hom uit die bakkie geklim het. Mnr. Niemandt beweer dat dr. Kok op daardie dag hom ook telefonies gedreig het en dat hy “liewer gery het om ‘n konfrontasie te vermy.”
• Op die video kan gesien word hoe dr. Kok me. Niemandt se kortbroek aan die agterkant opskuif, toe haar deurtrekkertjie gesien kon word, terwyl sy buk om haar dogtertjie in die kar vas te gespe.
• Die video van die beweerde bakleiery was steeds by me. Niemandt (mnr. Niemandt het intussen uitgetrek). Sy het Maandagoggend geweier dat mnr. Niemandt die video aflaai en hy het aangedui dat hy die polisie se hulp gaan inroep om die video in die hande te kry.

• Mnr. Niemandt sê hy het na die voorval dadelik polisiestasie toe gegaan om te vertel wat gebeur het. Volgens mnr. Niemandt het ‘n polisieman hom aangesê om te wag met sy klagte (hy wou ‘n aanrandingsklagte teen dr. Kok aanhangig maak) totdat dr. Kok aandui wat hy wil doen.
• Mnr. Niemandt sê hy weet nie waar is sy jagmes nie, want tydens die aanval het dr. Kok of sy skoonpa die mes by hom afgeneem.
• Dr. Kok se vriendin, Alet van Rooyen, het die gebeure, soos dr. Kok dit aan haar geskets het, vlugtig Maandagoggend vir die koerant vertel. Dit verskyn elders.
• Me. Van Rooyen het aangedui dat dr. Kok se toestand teen Maandag “steeds ernstig is.” Hy is in die intensiewe eenheid, waar hy behandel word vir twee steekwonde in die buik, ‘n ernstige steekwond aan sy hand en twee steekwonde op sy arm. Me. Van Rooyen het gemeld hy word onder sedasie gehou vir pynbeheer.
• Die Observer het me. Niemandt probeer kontak om haar weergawe van die gebeure te kry. Sy het egter nie haar selfoon geantwoord nie.

