Opvolg: Waarheen met egpaar?
Rassie en Janetta Erasmus het getrek, van die een sypaadjie in Joubertstraat, oor die teerpad, na die ander een toe.
“Ek nooi die mense uit om die man en sy vrou vir ‘n week lank op die sypaadjie voor hulle huise te laat bly, dan kyk hulle hoe voel hulle daarna,” sê Brian Holder van die balju kantore. Die gehawende Datsun staan naby hulle kantore.
Derick Mathews van die Freedom Recovery Centre in Nigel het aangebied om te kyk of hy nie ‘n borg kan kry om die egpaar te probeer rehabiliteer nie.
Maar talle mense wat al probeer hulp aanbied het, is skepties.
“Jy kan vir hom ‘n woonstel en ‘n werk gee, hy sal nie twee dae hou nie.”
‘n Man van eMalahleni het vertel dat hy die egpaar jammer gekry en aangebied het dat hulle in sy erf bly, terwyl hulle hul voertuig regmaak. Dit was in 2014 en hulle het destyds ‘n Corsa bakkie gery.
Die man, wat nie sy naam wou gee nie, het gesê dat hy hulle gevra het om te loop nadat hy agter gekom het dat hulle dwelms gebruik, selde bad en amper heeldag televisie kyk. Hy het ook gekla dat hulle ‘n rotplaag na sy huis gelok het.
‘n Bron in die Steve Tshwete Munisipaliteit sê dat hulle talle klagtes oor die egpaar ontvang. Hulle krap egter kop oor hoe om die situasie te hanteer.
Video: Egpaar nou in Joubertstraat
Te danke aan ‘n skuiwergat in wetgewing kry hulle’n sewe dae kennisgewing om hul motor te verwyder, maar as hulle hul motor net ‘n paar meter vorentoe of agtertoe skuif, moet die proses van voor af begin.
“Een ding is seker, hulle is glad nie dom nie. Dit is hoekom hulle na die oorkant van die sypaadjie getrek het.”
Indien hul motor gekonfiskeer word, sal daar vir hulle alternatiewe verblyf voorsien moet word, wat daar nie is nie.
Die munisipale bywette bepaal dat jy nie op ‘n sypaadjie mag slaap of in ‘n motor mag woon nie.
Die verkeer het die egpaar al talle kere verjaag en selfs op ‘n slag tot by die N4 vergesel. Maar hulle vind elke keer hul weg terug.
“As jy jou rug draai is hulle terug. Waar kry jy blyplek vir twee mense wat net wil sit en dwelms gebruik?”
• Susan Grimbeeck het vir meer as ‘n jaar in haar rooi motor voor die polisiestasie gebly. Sy is vort nadat iemand haar motor reggemaak het.
