Opvolg: Inbraak terwyl vrou slaap
Terwyl 'n bejaarde vrou gelê en slaap het, het 'n dief doodluiters by haar woonstel ingekom en haar platskerm televisie en juwele gesteel.
Me. Mienie Kruger (79) was verlede Donderdagoggend verstom toe sy opstaan en agterkom dat daar “te veel lig” vanaf haar motorhuis se kant af by die woonstel inskyn. Toe sy ondersoek instel, het sy gesien dat haar elektriese motorhuisdeur wawyd oopstaan.
Sy het gekyk of alles reg is by haar voertuig, maar daar was geen gebreekte vensters of teken dat iets gesteel is nie.
Terug in die woonstel het sy vir haar koffie gemaak en teruggestap na haar sitkamer. ‘n Skok het egter op haar gewag. “Die televisiekabinet se deure was oop en net die swart gat, wat die televisie moes wees, was daar.”
Me. Kruger het besef dat daar ‘n inbreker in haar huis was, terwyl sy geslaap het en het dadelik die polisie gebel.
Hulle was nog besig om haar verklaring te neem, toe me. Kruger opspring en haar haas na haar kombuis waar een van haar ou selfone, ‘n ring en ‘n horlosie gelê het. Toe eers het sy besef dat die booswig ook haar ring en horlosie gevat het. Die selfoon is net so gelos.
“Ek het groot sentimentele waarde aan die horlosie, want my man het voor sy dood 15 jaar gelede dié horlosie vir my gekoop.”
• Die inbraak het plaasgevind by Malin Woonstelle in Gholfsig en daar is dieselfde nag ook by ‘n ander motorhuis by die woonstelle ingebreek. Tydens dié inbraak is ‘n voertuig se venster stukkend geslaan en ‘n karradio gesteel.
