Crime

Video: Paartjie steel by St Joseph’s Ouetehuis

'n Blondekop vrou en 'n jong man, het vermoedelik twee ringe by 'n bejaarde inwoner van die St Joseph's Ouetehuis gesteel, nadat hulle hul voorgedoen het as besoekers.

‘n Ontstelde me. Coleen Lamprecht (bestuurder by die tehuis) kan steeds nie glo dat die twee die personeel so maklik om die bos gelei het om toegang tot die tehuis te kry nie.

Sy het later besef dat hulle alles haarfyn beplan het, nadat sy na die videomateriaal van die CCTV kameras gekyk het.

Deur die videomateriaal wys me. Lamprecht hoe die twee verlede Dinsdag oorkant die pad in SADC-straat gestop het (hulle het nie in die parkeerarea voor die tehuis gestop nie).

Hulle kom aangestap na die toegangshek, maar vertoef ‘n ruk, totdat daar ander besoekers by die hek is, sodat hulle saam met die groep kan ingaan.

By die tehuis se ontvangs lag en gesels hulle saam met die groep mense en vertel dat hulle by “oumatjie gaan kuier,” waarop personeel aanneem dat hulle saam met die groep mense is en nie verder kennis van hulle neem nie.

Me. Lamprecht sê die twee het daarna na die heel agterste kothuise by die tehuis geloop en by elke kothuis gaan aanklop. Hulle het vir die bejaardes vertel dat hulle juwele koop en graag na al hulle (die bejaardes) se juwele wil kyk.

Al die inwoners het hulle verjaag, maar by een van die kothuise het hulle met ‘n hele nuwe plan vorendag gekom. Die vrou het voor die inwoner (wat anoniem wil bly) se veiligheidsdeur begin trippel en gesê dat sy dringend die toilet moet gebruik.

Die tagtigjarige vrou het die veiligheidsdeur oopgesluit en die vrou is dadelik badkamer toe. Die jong man het saam met haar by die deur ingekom.

Hulle het in die sitkamer gaan sit, waarop die twee vreemdes vir die bejaarde gevra het of sy nie juwele het waarna hulle kan kyk nie, want hulle koop graag juwele.

Die bejaarde inwoner het vir hulle gesê sy het net krale en hulle het deur alles gekyk.

Tydens die geselsery het die vrou gevra of sy nie dalk nóg juwele het nie, waarop sy ‘n ander kassie, waarin haar trouring en nog ‘n ander ring was, vir hulle gewys het.

Die slagoffer onthou dat die jong man haar besig gehou het en die twee daarna uitgestap het. Toe sy minute later in haar juwelekissie kyk, was die twee ringe weg.

Op die video kan gesien word hoe hulle glimlaggend wegstap. Die twee het weggery in ‘n silwer Toyota voertuig.

“Dit is verskriklik dat hulle toegeslaan het op ‘n kwesbare bejaarde vrou. Ek is seker hulle gaan dit by ander ouetehuise probeer doen en ek wil almal waarsku om op die uitkyk te wees vir hulle!” het me. Lamprecht kwaad gesê.

• As enige persoon die twee op die foto of video herken, bel die ondersoekbeampte, adj. Adel Zanna by 013 249 1440 of 013 249 1466.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button