‘Middelburg Monsters’ uitspraak uitgesaai
Die hele wêreld sal kan toekyk wanneer die egpaar wat skuldig bevind is van die seksuele misbruik van hul eie dogtertjies, gevonnis word.

Die nuus kom nadat ‘n aansoek om die hofverrigtinge via die www.mobserver.co.za webtuiste uit te saai, suksesvol was.
Enige iemand met ‘n internet konneksie sal dus kan toekyk wanneer landdros Deon Minnie die egpaar, gedoop die “Middelburg Monsters”, vonnis.
Landdros Minnie het in sy uitspraak gesê dat die aansoek die koppelvlak tussen die behoorlike funksionering van die strafregstelsel en die soeke na media en persdeelname beklemtoon.
Hy het bevind dat die aansoek nie inbreuk kan maak op die beskuldigdes en die staat se reg op ‘n regverdige verhoor nie, omdat die verhoor reeds so ver gevorderd is. Die egpaar is reeds in 2014 skuldig bevind.
Daar is egter beklemtoon dat die identiteit van die beskuldigdes, wat die biologiese ouers van die slagoffers is, nie bekend gemaak mag word nie.
Landdros Minnie het gesê die grondwet bepaal dat almal die reg tot vryheid van spraak het wat onder andere media en persvryheid insluit.
Die Middelburg Observer sal toegelaat word om op die dag van die vonnis, ‘n videokamera en klanktoerusting in die hofsaal op te rig.
Vereistes bepaal dat dit staties is en op die landdros gerig bly, dat daar nie opnames gemaak word as die hof nie in sitting is nie, dat geen stilfoto’s geneem of van videomateriaal gemaak word nie en dat die beskuldigdes, slagoffers, en enige ander persone teenwoordig se identiteite ten alle koste beskerm moet word.
Hierdie sal die eerste keer in die geskiedenis van gemeenskapskoerante in Suid Afrika wees wat so iets gedoen word.
Hou die koerant dop vir verdere inligting oor wanneer die uitsending sal plaasvind.
