Opvolg: Vrou moet wag om lot te hoor
Die Hooggeregshof sal in Junie beslis watter straf Ronel Botma opgelê gaan word.
Botma het verlede week skuldig gepleit op die moord van Tizianno Ciciliato. Die hof het vir vyf dae in Middelburg gesit om getuienis ter verswaring en versagting van mev. Botma se vonnis aan te hoor.
Mnr. Ciciliato is in Februarie 2013 in sy huis in Gholfsig vermoor. Twee vroue en vyf mans is kort daarna vir die moord aangekeer. Een van die vroue is Anna Mokwana, wat vir jare by die paartjie gewerk het en in die hof as hul jongste dogter se ‘tweede ma’ beskryf is.
Cornelius Ross het onder andere vertel hoe hy mev. Botma, terwyl sy swanger was met haar jongste dogter, een aand bebloed naby hul huis in Gholfsig aangetref het, nadat sy deur mnr. Ciciliato aangerand is.
Verskeie ander getuies het vir die hof vertel hoe mev. Botma gedwing was om harde hande-arbeid, soos die skuif van motorbande moes doen.
Sy self het vertel hoe sy “finansieel verlam” is deurdat sy al haar eiendomme moes verkoop. Mev. Botma het gesê dat sy geen salaris ontvang het nie en geen aandeel in die besigheid gehad het nie, buiten vir ‘n 50% aandeel in die gebou.
Professor Vollie Spies het ‘n omvattende verslag opgestel oor die jarelange mishandeling wat mev. Botma en haar dogter moes deurgaan, asook die impak daarvan op hulle. Sy het gesê dat vroue in mev. Botma se situasie dikwels glo dat hulle magteloos is en daarom nie poog om uit die verhouding te ontsnap nie.
Die staatsaanklaer, Jennifer Cronje, het aangevoer dat die moord vir finansiële gewin gepleeg is.
Vriende van mnr. Ciciliato het getuig dat hy ‘n moeilike maar tog joviale man was wat lief was vir kosmaak.
Daar is getuig dat mnr. Ciciliato gedroom het om in Knysna te gaan aftree.
Die staat beplan om in Junie nog twee getuies, Robert Ciciliato en Amie Roberts, te roep wanneer hofverrigtinge hervat word.
Regter Andre Louw het aangedui dat hy beplan om die saak af te handel met die volgende hofdatum.
