Crime

Polisie ‘bende’ teister inwoners

n Groep speurders in burgerlike drag het soos 'n rampokker bende uitlokkend en skoorsoekend arrestasies uitgevoer. Dieselfde groep speurders is vermoedelik by twee voorvalle betrokke wat Dinsdagoggend in Middelburg plaasgevind het.

‘Ooggetuies in beide voorvalle het uit vrees vir viktimisering versoek om anoniem te bly.

Inwoners in die Silver Oaks kompleks het vertel van agt mans wat daar aangekom het in ongemerkte motors. ‘n Vrou het gesien hoe een van die mans ‘n vuurwapen uithaal, terwyl ‘n ander ammunisie aan sy makkers uitgedeel het. Sy het haarself in haar huis toegesluit, omdat sy ‘n gewapende roof gevrees het.

Nog ‘n vrou is toegesnou dat sy haar mond moet hou omdat hulle sal maak wat hulle wil, toe sy die mans gevra het om sagter te praat en die kompleks se reëls te respekteer.

Die mans het hulle op geen stadium as polisielede geïdentifiseer nie of verduidelik hoekom daar so ‘n groot groep is nie.

Toe hulle met Lourens du Plessis te voorskyn kom is daar aangeneem dat dit moontlik van sy werkskollegas was.

Mnr. Du Plessis sê dat sy vervreemde vrou drie dae tevore ‘n aanrandingsaak teen hom gemaak het.

Dieselfde groep mans het vermoedelik kort daarna by ‘n ingenieursbesigheid opgedaag. Die hele besigheid is tot stilstand geruk toe die speurders aangedring het om ‘n werker te arresteer op ‘n klag van aanranding. Hulle het aangedring om vir “Johan” te sien en geweier om hulself te identifiseer of ‘n lasbrief te toon.

“Die eerste ding wat jy dink is gewapende roof. Agt mans stap in, almal gewapen, en hulle weier om vir jou enige identifikasie of dokumentasie te wys.”

Pandemonium het losgebars toe die besigheidseienaar, Jan Greeff, na sy kantoor toe gegaan het om die polisie te bel.

‘n Ooggetuie het vertel hoe van die speurders mnr. Greeff herhaaldelik met ‘n vinger teen die bors gestamp en gesê het dat hy ‘n “f****ng racist” is.

“Dit was terrible om dit te sien. Dit was scary. Om te sien hoe hulle iemand tot die uiterste toe uitlok, ek kon nie glo dat hy kalm gebly het nie. Hulle wou hê hy moes iets doen.”

Dit blyk dat ‘n werker by die besigheid ‘n aanranding teen ‘n ander werker gemaak het. Alhoewel een van die mans op die toneel gesê het hy is Johan en erken het dat hy die klaer geslaan het, het die speurders daarop aangedring om vir Christo te sien.

Die volgende oomblik het die mans mnr. Greef gegryp en hom in ‘n ongemerkte voertuig geboender. Hulle is met skreeuende bande daar weg.

“Dit was baie erg. Mens weet nie waarheen hulle nou met hom gaan nie.”

Mnr. Greeff is aangekla van dwarsboming van die gereg. Daar is gepoog om hom oornag in aanhouding te hou, maar sy regverteenwoordiger, Hein Braukman, kon daarin slaag om hom laat Dinsdagmiddag op borg uit te kry. Dit is onduidelik waarvoor Christo van der Merwe aangekla is.

In beide gevalle is betrokkenes stomgeslaan oor hoekom die speurders geweier het om hulself te identifiseer. Dit is ook onduidelik hoekom hulle vir ‘n geringe saak soos aanranding in sulke groot getalle sal opdaag.

“Mense moet weet van hierdie groep en versigtig wees vir hulle. Hulle werk soos ‘n bende en is daarop uit om moeilikheid te maak,” het een van die ooggetuies gesê.

• ‘n Soortgelyke voorval het ‘n week gelede by Twizza in Middelburg plaasgevind. ‘n Misverstand en speurders se versuiming om hulself oordentlik te identifiseer, het tot die gevolg gehad dat die klaers in ‘n diefstalsaak gearresteer is nadat die polisie se openbare orde eenheid ingeroep is.

Back to top button