Crime

Opvolg: Wydsbeen ‘adverteer’ hulle in straat

Jy kan jou kop skud. Jy kan jou vererg. Jy voel dalk ietsie roer as jy vir hulle loer. Aan watter kant van die draad jy ookal staan, prostitusie in Middelburg is skynbaar hier om te bly.

Terwyl inwoners mor oor gebruikte kondome, leë pakkies dwelms en ongure karakters wat skielik in die strate rond sluip, kry die prostitute in Meyerstraat dit reg om onverstoord voort te gaan met sake.

Inwoners wat verby die huise in dié straat ry, kla gereeld oor die skamel geklede “dames”, wat hulself aggressief bemark deur met hul borste ontbloot en wydsbeen straat se kant toe te sit en bak in die son.

“Mens kan dit amper nie glo nie. Dit lyk soos Hillbrow,” het ‘n besoeker aan Middelburg nou die dag verstom aan ‘n joernalis gesê, toe hulle verby die huis ry en sy die vroue wat in die son baai aan hom wys.

Verskeie kliënte se motors asook polisie voertuie word daar opgemerk. Die wat bietjie skugterder is stop voor OK Grocer en stap die paar meter soontoe.

Kapt. Khanyisile Zwane het met ‘n vorige geleentheid verduidelik dat foto’s van polisievoertuie wat deur die Middelburg Observer geneem is, net ‘n voorval was van polisie offisiere wat ‘n klag gaan opvolg het.

Verlede week het inwoners naby die huis onraad vermoed toe ‘n swart Nissan Hardbody dubbelkajuit, wat aan die polisie behoort, vir byna ‘n uur voor die huis gestaan het. Nog ‘n polisievoertuig, hierdie keer ‘n roomkleurige dubbelkajuit, het ook later daar gestop.

“Mens kon hoor hoe hulle lag en gesels in die huis. Dit was ‘n groot gekuier,” vertel een van die ooggetuies.

‘n Paar vroue het besluit om foto’s van die petalje te probeer neem.

“Daar het ‘n woedende vrou uitgestorm wat wou weet hoekom ons foto’s neem.”

Die inwoners het vertel dat sy haarself voorgestel het as sersant Radebe en gesê het dat sy ‘n vriendin van Lettie, die eienaar van die huis, is. Sers. Radebe het aan die mense gesê dat sy daar was om ‘n geveg tussen die huurders uit te sorteer en dat sy die bystand van die ander bakkie ingeroep het.

Toe die inwoners haar vra hoekom hulle niks aan die prostitusie doen nie, het sers. Radebe glo verbaas geantwoord dat sy nie bewus was daarvan nie en nie kan glo dat Lettie so iets sou toelaat nie.

“Sy het niks by haar gehad nie, nie haar selfoon nie, nie ‘n stukkie papier of pen of selfs ‘n radio nie. Sy het nie ‘n vuurwapen by haar gehad nie en was informeel aangetrek. Iets is nie reg nie,” meen een van die vroue op die toneel.

Kapt. Zwane sê dat die voertuie op die toneel deur die misdaadkantoor gebruik word.

“Hulle was heel moontlik uit op ‘n klagte. As die persone ‘n direkte klagte by my inhandig, kan ek dit opvolg.”

Sy het mense gevra om sulke klagtes na middelburg.corpcomm@saps.gov.za te stuur.

• Intussen het nog ‘n inwoner in die omgewing die GPF betrek deur die prostitusie probleem by Maandag se vergadering te noem. Hy sê dat hy snags wakker gemaak word deur bloedstollende gille soos wat die vroue van die nag baklei of aangerand word.

“Mens kan nie so leef nie. Ons is magteloos, maar êrens moet iets darem nou gedoen word!”

•Om kommentaar te lewer op die berig sms die woord pros en daarna jou kommentaar na 37940. ‘n Sms kos R1 50.

Back to top button