Video: Bied reuse beloning aan
'n Sakevrou leef in angs, nadat twee van haar honde in minder as drie maande dood gemaak is. Sy bied nou 'n R15 000 kontant beloning aan vir inligting wat die skuldiges aan die pen kan laat ry.
Monja Germishuizen sê dat haar kop al sif gedink is oor wie haar sou wou skade aandoen. Haar rottweiler, Petunia, is drie maande gelede so hard geslaan dat haar oë gebars het. Verlede week is haar nuwe rottweiler hondjie, die twee-maande oue Beastie, vergiftig.
Sy sê dat sy die voorvalle nie met pogings tot misdaad verbind nie.
“Ek het ‘n vicious hond agter in my erf. As iemand wou inbreek dan sou dit die hond wees om dood te maak, maar niemand doen iets aan hom nie.”
Sowat drie maande gelede het me. Germishuizen by die huis gekom en haar hond, Petunia, bloeiend aangetref. Sy is so hard oor die kop geslaan dat sy haar sig verloor het. Bosse hare is uit haar pels geruk. Me. Germishuizen moes haar laat uitsit.
Volgens me. Germishuizen gebeur daar sedert Desembermaand “snaakse dinge” by haar huis. Sy het die afgelope paar maande vreemde oproepe ontvang. As sy vra wie praat, hoor sy net iemand swaar asemhaal voordat die oproep beëindig word. Daar word gereeld by haar hek se interkom gepeuter.
“Hulle vra snaakse goed soos ‘Waar is jou man Monja’ en dan is hulle weer weg.”
Dit het haar genoop om kameras te laat installeer. ‘n Video wys hoe ‘n Isuzu dubbelkajuit voor haar huis stop en ‘n man, wat effe onvas op sy voete is, uitspring en aan haar hek ruk.
Verlede Woensdag is haar nuwe rottweiler hondjie, wat sy net minder as ‘n maand gehad het, vergiftig toe sy haar vir 15 minute buite toe laat gaan het.
Sy het onraad vermoed toe die hondjie skuim en bloed begin opgooi. In ‘n poging om die hondjie te red, het sy mond-tot-mond asemhaling toegepas, wat veroorsaak het dat van die gif in haar mond beland.
“Ek het sere om my mond en tot in my keel. Die dokters sê daar is Rattex in my sisteem.”
Die hondjie is dood oppad veearts toe.
Me. Germishuizen sê dat sy hoop die kontantbeloning werk om mense wat iets weet aan te spoor om met haar kontak te maak.
“Ek moet weet wat aangaan. Ek raak so benoud, ek weet nie wie om te vertrou nie.”
Indien jy inligting en bewyse oor die voorvalle het, kan jy haar bel by 076 424 7589.
• Gaan kyk na die video van die man wat aan me. Germishuizen se hek pluk op www.mobserver.co.za.
