‘Baby Broker’ in hof oor wild
Die berugte 'Baby Broker' van Durban, wat al op Carte Blanche verskyn het, moes in die Middelburg hof verskyn na 'n wildtransaksie wat skeefgeloop het. Sy het volgens die klagstaat, nie opgedaag by die hof nie.
Hester Elizabeth Elichia van Schalkwyk (63) van die plaas Wildebeesfontein in die Kinross omgewing, staar ‘n klag van bedrog en een van diefstal in die gesig. Sy het bekend geword as die “Baby Broker” na transaksies waar kinders betrokke was.
Die klagtes spruit uit ‘n transaksie wat sy glo met Hennie Meyer aangegaan het in September 2012 waartydens sy beweer het dat sy ‘n wildhandelaar is.
Luidens die klagstaat sou sy gespesifiseerde wild aan mnr. Meyer lewer nadat hy haar R500 000 betaal het. Sy word daarvan beskuldig dat sy nie in ‘n posisie was om die wild af te lewer nie en die geld vir eie gewin gebruik het.
Mev. Van Schalkwyk word van diefstal vir die half miljoen rand aangekla.
In ‘n verklaring wat tydens haar borgaansoek ingehandig is, sê mev. Van Schalkwyk dat sy in Augustus 2014 deur lede van die Middelburg speurtak in Delmas gearresteer is.
Sy sê dat sy vorige veroordelings het maar dat dit meer as tien jaar gelede gebeur het en dus nie ter sprake is vir die huidige klagtes teen haar nie.
Mev. Van Schalkwyk verklaar ook dat sy vyf jaar gelede skuldig bevind is op ‘n oortreding van die kinderwet waarvoor sy ‘n opgeskorte vonnis gekry het wat reeds verval het.
Tydens die aflegging van die verklaring het sy ook bekend gemaak dat daar nog ‘n hangende saak in Durban teen haar is, waarvoor sy ‘n paar dae na haar arrestasie moes verskyn.
•Hester Elizabeth van Schalkwyk, wat ook as Elichia Driescher bekend staan, het al verskeie botsings met die gereg gehad.
• Die Times Live het berig dat mev. Van Schalkwyk in 2004 vir die eerste keer vir kinderhandel gearresteer is nadat sy ‘n kind in haar sorg vir R10 000 verkoop het. Sy het destyds die Survivor’s Children’s Sanctuary in Durban gehad.
Die berig lei dat sy in 2006 skuldig gepleit het op ‘n minder ernstige klag van die onwettige fasilitering van ‘n aanneming en tot twee jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar, gevonnis is.
• Sy is in 2011 weer gearresteer nadat Carte Blanche ‘n ondesoek teen haar uitgesaai het wat beweer het dat sy twee kleuters, ‘n boetie en sussie, aan verskeie voornemende ouers probeer verkoop het.
Die veilige hawe wat sy vir bykans 11 jaar bedryf het, is toegemaak na haar arrestasie.
Die Times Live het berig dat mev. Van Schalkwyk 17 klagtes waaronder kinderhandel en bedrog, in die gesig staar.
Hierna het The Mercury (Independent Online) in Maart 2013 berig dat die twee weke lange verhoor van mev. Van Schalkwyk in die wiele gery is toe sy mediese sertifikate vir ‘n knie-operasie en die behandeling van ‘n harttoestand en bloedoortapping ingehandig het.
Landdros Trevor Levit het gesê dat alhoewel hy huiwerig is om die verhoor uit te stel, hy nie wil hê dat ‘n tegniese punt die uitvoer van reg en geregtigheid in die wiele moet ry nie.
Dinsdag 29 April 2015 het die Daily News berig dat die sake teen mev. Van Schalkwyk teruggetrek is en dat die staat daarvan beskuldig word dat hulle voete sleep.
Die polisie kon ook glo nie daarin slaag om die getuies op te spoor nie, waarvan sommige vermoedelik geïmmigreer het.
• In Mei 2013 berig die Independent Online oor ‘n saak van “diefstal onder valse voorwendsels” wat teen mev. Van Schalkwyk ondersoek word. Ed Hern van Rhino and Lion Reserve het beweer dat hy mev. Van Schalkwyk as Elichia Driescher leer ken het. Sy wou ‘n renoster kalf vir R80 000 aan hom verkoop.
Mnr. Hern het R20 000 deposito betaal, maar na ‘n maand nog nie sy renoster gekry nie. Hy het toe ‘n privaat speurder gehuur wat Driescher as Hester van Schalkwyk ontmasker het.
Daar is destyds berig dat die dossier hof toe gestuur sou word vir beslissing. Dit is onduidelik of mev. Van Schalkwyk ooit aangekla is. Sy het die R20 000 aan mnr. Hern terugbetaal, maar hy het gesê dat dit nie genoeg is nie en dat sy moet betaal vir wat sy probeer doen het.
• ‘n Lasbrief is voorlopig uitgereik in die Middelburg hof nadat mev. Van Schalkwyk versuim het om in die hof te verskyn. Die lasbrief sal op 7 Julie bekragtig word indien daar nie verdere verwikkelinge is nie.