Gesteelde beeste naby plaashuis gekry
Gesteelde beeste is verlede week naby 'n plaashuis op die Frischgewaagdpad teruggevind.
Mnr. Eugene Ehlers het op 1 Julie sewe beeste op die plaas Doornkloof vermis. Sy plaasbestuurder het met die hulp van sy buurman, Kerneels Uys, die spoor van die gesteelde beeste gevolg.
Dit het hulle tot by die Kruisriviergrondpad, toe langs die Stoffbergpad en daarna op die Frischgewaagdgrondpad gelei tot by ‘n plaasopstal waar hulle die beeste gekry het.
Die beeste se oorplaatjies was reeds uitgesny en baie van hulle het gekoekte bloed aan hul ore gehad. ‘n Speenkalf, wat sowat ‘n maand gelede by mnr. Uys weggeraak het, is ook tussen die beeste gekry.
In die kraal, wat skaars 50 meter van die opstal af is, is daar vars bloed aan die linkerkantste drukgangpale gekry, asook die agterkant van oorplaatjies op die grond. ‘n Hopie as wat nog smeul het aangedui dat daar onlangs vuur gemaak is meters van die drukgang af.
Die eienaar van die plaas, Johan Bezuidenhout, sê dat hy ‘n groep boere op sy plaas gekry het. Hy sê dat die beeste vermoedelik vanaf ‘n buurplaas na sy plaas oorgespring het vir water, wat in ‘n kraal naby sy huis is.
Mnr. Bezuidenhout sê dat hy onlangs van sy eie beeste verkoop het, hul oorplaatjies uitgesny en hulle gebrand het en dat dit is hoekom daar bloed aan die drukgang was.
